Maak Vrydag die 13de jou angstig? Spieëls, swart katte . . . en waarom mense ‘13’ vrees

Bring dit werklik ongeluk om ’n swart kat te sien?

Laat die idee van ’n Vrydag wat op die 13de van die maand val jou na vlugsout gryp? Dan ly jy dalk aan paraskevidekatriafobie: ’n Intense en irrasionele vrees vir dié dag.

As jy nie net sout oor jou skouer kan gooi en aangaan met jou dag nie, ly jy aan dié fobie, sê dr. Louis Awerbuck (56), ’n sielkundige van Stellenbosch.

Dit is op 13 Maart die tweede keer vanjaar dat dié sogenaamde ongelukkige datum op die kalender verskyn. In November vanjaar gebeur dit weer – ’n statistiese ongewoonheid. Dit gebeur net een keer elke 11 jaar dat daar drie keer ’n Vrydag op die 13de van die maand val.

“ ’n Fobie is meer as ’n gewone vrees. Dis ’n intense, spesifieke en diagnoseerbare angsreaksie buite verhouding tot die werklike gevaar,” verduidelik Awerbuck.

“ ’n Fobie sit nie net in jou kop nie; dit sit in jou liggaam,” sê Awerbuck. Jou liggaam gaan onmiddellik in ’n “veg-of-vlug”-reaksie: “Jou hartklop neem toe, jy sweet, jy kan begin bewe en ervaar ’n oorweldigende drang om te ontsnap. Selfs al besef die persoon dat die vrees onnodig is.”

Ongeveer 10% van mense wêreldwyd ly aan ’n fobie, sê Awerbuck. “Vroue is twee tot drie keer meer geneig as mans om aan een te ly en daar is duisende verskillende fobies.”

Hy verduidelik sulke vrese kan aangeleer word deur assosiasie – soms deur ’n direkte negatiewe ervaring, maar dikwels ook deur stories, bygelowe en kulturele invloede. Rolprente, mites en generasies se waarskuwings oor Vrydag die 13de kan byvoorbeeld ’n gevoel van gevaar vestig sonder dat daar ooit werklik iets gebeur het, sê Awerbuck.

Jy kan jou fobies afleer en onder beheer kry deur terapie. “Maar indien dit nie jou alledaagse bestaan beïnvloed nie, is dit onnodig.”

Hoekom word Vrydag die 13de as ongelukkig beskou?

In sommige Christelike interpretasies word die getal 13 as ongelukkig beskou omdat Judas Iskariot die 13de gas by die avondmaal saam met Jesus was en Jesus kort daarna verraai is. Die getal word dus met die dood geassosieer. In Noorse mitologie word dieselfde negatiewe konnotasie toegeskryf aan Loki, wat as 13de gas chaos veroorsaak en indirek tot Balder se dood lei, wat die getal met rampspoed koppel.

Daarenteen het voor-Christelike en heidense tradisies soos maan- en vrugbaarheidskulture die getal 13 met natuurlike siklusse, vrugbaarheid en die maanfases verbind, eerder as met ongeluk – ’n betekenis wat mettertyd verander het namate kulture gemeng het.

Die 13-klub

Die Thirteen Club, gestig deur kapt. William Fowler in 1882 in New York, was ’n klub wat doelbewus die taboes rondom die getal 13 en ander bygelowe probeer weerlê het. Die groep het hul lot getoets deur spieëls te breek, 13-gang-etes te geniet, sout te mors en onder lere deur te loop, alles om te wys dié bygeloof het geen werklike mag nie. Bekende figure soos Theodore Roosevelt, Grover Cleveland en William McKinley, saam met sowat 400 ander lede, het aan die klub behoort.

Die swart kat en die leer

Die oorhoofse bygeloof van Vrydag die 13de is dat dit slegte geluk beteken, of gaan bring. Bestaande vrese van gebeure wat slegte geluk kan voorspel, soos om ’n swart kat te sien, onder ’n leer deur te loop of ’n sambreel in die huis oop te maak, beteken nóg meer gevaar oor jou pad op hierdie dag.

Die idee dat swart katte ongeluk voorspel, het waarskynlik in die 13de eeu ontstaan toe pous Gregory IX ’n geskrif uitgereik het waarin swart katte met heksery en die duiwel verbind was. Die geloof was toe dat hekse in swart katte kan verander en dat swart katte hekse se bonatuurlike helpers is. Omdat die swart kleur simbolies met donkerte en boosheid geassosieer is, het dit die vrees verder versterk.

Tydens die heksverhore deur die eeue in Europa, en later in Amerika, is vroue wat van heksery beskuldig is dikwels saam met hul katte vervolg. Hierdie stories het voortgeleef en deel geword van volksgeloof.

Die bygeloof dat dit ongeluk bring om onder ’n leer deur te loop, het sy wortels in antieke simboliek en Middeleeuse vrese. Historici wys daarop dat ’n leer wat teen ’n muur staan ’n driehoek vorm – ’n heilige simbool in vroeë Egipte, waar driehoeke met goddelikheid verbind is. Om deur daardie “heilige” ruimte te stap, was asof jy ’n spirituele reël oortree.

Later is die idee in die Christelike tradisie versterk, waar die driehoek die Heilige Drie-eenheid gesimboliseer het, skryf die Britse koerant Independent.

Bykomende bronne: Time and Date, Brittanica encyclopedia; History.com

– Artikel deur Shanell Binedell

  • Die splinternuwe uitgawe van Die Papier is vandag op die rakke. Jy kan ook die e-koerant hier koop.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie