Malema staar regsuitdaging oor RDK-lidmaatskap in die gesig

EFF-leier Julius Malema Foto: EFF
EFF-leier Julius Malema Foto: EFF

EFF-leier Julius Malema is in ’n regsgeveg oor sy rol in die Regterlike Dienskommissie (RDK) ná sy skuldigbevinding.

Die Helen Suzman-stigting het hof toe gegaan om parlement te dwing om te besluit of Malema nog geskik is vir die pos. Die stigting glo sy gedrag en uitsprake oor die regbank laat twyfel ontstaan oor sy rol in dié liggaam wat regters aanstel.

Die stigting betwis Thoko Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), se besluit van 30 April om nie Malema se geskiktheid te hersien nie, asook die NV se versuim om die saak te oorweeg. Die stigting wil hê die hof moet hierdie besluit ongeldig verklaar en tersyde stel.

In sy aansoek voer die stigting aan:

  • Parlement het ’n grondwetlike plig om te bepaal of Malema se optrede en skuldigbevinding hom ongeskik maak vir die RDK.
  • Sy skuldigbevinding en vonnis vir die onwettige besit van ’n vuurwapen wek ernstige vrae oor sy geskiktheid vir die pos.
  • Sy herhaalde openbare aanvalle op regters kan die publiek se vertroue in die howe benadeel.
  • Sy aggressiewe styl tydens RDK-onderhoude gaan volgens die stigting verder as normale toesig en word gebruik om ’n politieke agenda te bevorder.

Die EFF het die hofsaak sterk veroordeel. In ’n verklaring sê die party dit is ’n “gevaarlike en oneerlike poging om demokratiese kritiek as grondwetlike oortreding voor te stel.”

“Die indruk wat die Helen Suzman-stigting skep is dat parlementslede met sterk menings oor die regbank, veral kritiek op regters of uitsprake, uitgesluit moet word van grondwetlike toesighoudende liggame.”

Volgens die EFF is die aansoek ook polities gemotiveer en deel van ’n breër poging om Malema en sy party te teiken. Die party beklemtoon dat regters nie bo kritiek verhewe is nie en dat openbare debat oor die regbank noodsaaklik is in ’n demokrasie.

Teenstanders meen egter dat Malema se optrede en uitsprake die publiek se vertroue in die regbank kan ondermyn.

Volgens die Grondwet kan ’n persoon wat tot meer as 12 maande tronkstraf gevonnis is, sy pos verloor — maar eers nadat alle appèlle afgehandel is.

Die hofsaak kan uiteindelik bepaal of Malema in die toekoms op die RDK kan aanbly.

Malema is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir ’n voorval in 2018 waar hy ’n vuurwapen in die openbaar afgevuur het, maar hy appelleer tans teen sy vonnis.

LEES OOK | Julius Malema kry tronkstraf: ‘Nie bo reg verhef’

Lees die volledige artikel op NovaNews.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie