’n Monumentale laat landskap deur J.H. Pierneef, Bosveldlandskap, Naderende Storm, Sabi Sands (1952), voer die lys aan vir Strauss & Co se Julie-veilingsweek in Johannesburg van 20 tot 22 Julie 2026. Hierdie skildery is met ’n beraamde opbrengs van R5 miljoen tot R7 miljoen die hoogtepunt van ’n uitstaande aandveiling bestaande uit moderne en kontemporêre kuns wat vir die eerste keer op die mark verskyn.
Die boomryke onderwerpe van Pierneef se verskeie linosneë, etse, kaseïen- en olieverfskilderye in die aandveiling – insluitend Bosveldlandskap met Herfsblare (na raming R1 miljoen tot R1,5 miljoen) – vind ’n eietydse vertolker in die onlangse werk van William Kentridge.
Die katalogus sluit twee groot voorbeelde van Kentridge se tegnies meesterlike werke op papier in: The Old Gods Have Retired, gedateer 2022 (na raming R1,2 miljoen tot R1,5 miljoen), en You Who Never Arrived, gedateer 2021 (na raming R850 000 tot R950 000).
Die openbare aanbod van hierdie lotte deur Pierneef en Kentridge dien as die sluitstuk van ’n uiteenlopende program opeenvolgende, regstreekse, virtuele veilings op Dinsdag, 21 Julie 2026.
Die dag begin met die verkoping van werke uit die Willem Boshoff-versameling (om 14:00), gevolg deur ’n fokus op Suid-Afrikaanse keramiek (om 17:00) en word afgesluit met die glansryke aandveiling (om 19:00).
Hierdie regstreekse program word aangevul deur ’n versameling tekeninge en skilderye deur Gregoire Boonzaier uit ’n enkele versameling, wat aangebied word as ’n eksklusiewe aanlyn veiling wat op Woensdag, 22 Julie 2026 ten einde loop.
Die fokus op Boonzaier sit die tradisie van Strauss & Co se gewilde winterveilings van individuele kunstenaars voort.
“Die omvattende keuse van werke deur Henk Pierneef in die aandveiling word tereg aangevoer deur sy majestueuse olieverf op doek, Bosveldlandskap, Naderende Storm, Sabi Sands,” sê dr. Alastair Meredith, die direkteur en hoof van veilings by Strauss & Co. “Dié werk is in 1952 tydens ’n besoek aan vriende op hul wildsplaas in die destyds pas-ingelyfde Sabi Sands-wildreservaat geskep en het vir dekades in die besit van ’n enkele familie gebly.”
