Mzwandile Stick erken die Springbokke sal hul verdediging en skopspel moet verbeter wanneer hulle Saterdag teen Wallis te staan kom.
Suid-Afrika se verdediging is verlede naweek soms deur Skotland oopgevlek, en Stick sê Wallis sou dié wedstryd deeglik ontleed het in aanloop tot die kragmeting op Kings Park in Durban.
Stick het aangedui dat verdediging en die skopspel hierdie week groot fokusareas in die Bok-kamp was.
“Ek dink nie ons was verlede week op ons beste wat die skopspel en verdediging betref nie,” het Stick aan verslaggewers in Durban gesê.
“Daar is dus baie ruimte vir verbetering in hoe ons as span funksioneer, en een van ons grootste fokusareas hierdie week was die skopspel en hoe ons saam verdedig.”

Stick glo Wallis sal probeer om die Springbokke onder druk te plaas met ’n vinnige aanval waarin hulle die bal lewendig probeer hou, soortgelyk aan dié wat Skotland suksesvol gebruik het.
“Wallis sal waarskynlik na daardie wedstryd kyk en dink dat hulle ons probleme kan gee as hulle die bal in die hand hou,” het Stick gesê.
“Solank ons aanhou verbeter en ons mense tuis trots maak, bly dit ons grootste fokus.”
Kaptein Pieter-Steph du Toit stem saam met Stick en sê die spelers het hard gewerk om die probleme reg te stel.
“Ons het verlede naweek ook foute op verdediging gemaak, en ons het dit hierdie week aangespreek,” het Du Toit gesê.
“Ek is seker Wallis gaan daardie swakhede probeer uitbuit, maar ek sien uit om te sien of ons dit reggestel het.”
Du Toit verwag ’n taai wedstryd, ondanks Wallis se moeilike tydperk die afgelope ruk.
Die laaste ontmoeting tussen die twee spanne het geëindig in ’n oorheersende 73-0-oorwinning vir Suid-Afrika aan die einde van verlede jaar.
“Hulle het spelers wat die bal sterk kan dra en is baie fisiek op verdediging, daarom moet ons vaste fasette reg wees,” het Du Toit gesê.
- Afskoptyd in Durban is 17:40.
