Wanneer duisende besoekers, groot landboumasjinerie en die reuk van plaasvars bymekaarkom, beteken dit net een ding: Nampo.
Die Nasionale Mielieprodusente-organisasie (Nampo), Suid-Afrika se grootste landbou-uitstalling, begin op 12 Mei met die tema “Veerkragtigheid deur innovasie”. Die fees word op Nampo-park langs die R30-roete net buite Bothaville in die Vrystaat aangebied.
Nampo is al sedert 1967 ’n jaarlikse hoogtepunt op die landboukalender en het oor meer as 55 jaar tot een van die grootste landbou-uitstallings in die Suidelike Halfrond gegroei.
’n Kaapse Nampo word ook sedert 2022 gehou. Vanjaar s’n is in September.

Die geleentheid word aangebied deur Graan SA en bring jaarliks boere, ondernemings en besoekers van reg oor Suid-Afrika en die buiteland bymekaar.
Verlede jaar se Nampo-oesdag het ’n rekord van altesame 87 191 besoekers oor vier dae gelok, met meer as 900 uitstallers wat hul produkte, masjinerie en landbou-nuwighede ten toon gestel het.
Die uitstallings wissel van moderne trekkers en tegnologie tot plaaslike kosstalletjies en leefstylprodukte.
Die terrein strek oor sowat 40 hektaar en sluit groot buite-gebiede vir masjienerie-demonstrasies in, wat dit een van die grootste landbou-venues in die land maak. Vir baie besoekers gaan Nampo oor meer as net landbou: Dis ’n ervaring waar sake en ontspanning saamvloei.
Boere gebruik die geleentheid om nuwe tegnologie onder oë te kry, terwyl gesinne die kos, vermaak en unieke landelike atmosfeer geniet.
Hugo le Roux, die eienaar van Nik-landbouprodukte, sê “die sukses van die fees lê daarin dat dit nie net ’n geleentheid bied om nuwe kliënte te bereik nie, maar ook om bestaande kliënte persoonlik te ontmoet en verhoudings te versterk”.
Hy sê sterk verkope is ook ’n groot trekpleister en sê hulle neem jaarliks aan Nampo deel.
Gesinsvriendelike speelplekke maak die dag ’n avontuurvolle ervaring vir besoekers van alle ouderdomme.
Kosstalletjies bly een van die grootste trekpleisters, met gewilde proviand soos braaivleis, burgers, vetkoek en pannekoek, wat elke jaar vinnig uitverkoop.
Besoekers kan kies tussen tradisionele boerekos, kitskos en soet lekkernye.

Tau Meule & Voere bring hul jaarlikse TAU-sterkman-kompetisie terug, waar deelnemers R10 000 kan wen deur saam met ’n maat 25 sakke van 40 kg so vinnig as moontlik op ’n bakkie te laai.
Toyota poog ook om vanjaar ’n Guinness-wêreldrekord op te stel deur duisende Hilux-bakkies by Nampo-park op 13 Mei bymekaar te bring.
Die doel is om die grootste samekoms van Hilux-voertuie nog as deel van die bekendstelling en viering van die nuwe negende-generasie-Hilux te skep. Hilux-bestuurders wat aan die poging deelneem, sal gratis toegang tot die terrein ontvang.
Met bek-en-klouseer wat boere tans moedeloos het, is dié skou ook ’n belangrike vertoonvenster vir landbou-vernuwing, waar die jongste tegnologie en slim boerdery-oplossings eerstehands ervaar kan word.
Maak seker jy laai die Nampo-2026-app op jou foon af om jou te help om deur die terrein te beweeg. Die app bevat ook die hele program vir die drie dae. Kaartjies is beskikbaar by OpenTickets en kos R140 per persoon aanlyn of R160 by die hek, met gratis toegang vir voorskoolse kinders en gratis parkering.
Met ’n lang geskiedenis, groot besoekersgetalle en internasionale uitstallers is Nampo ’n simbool van Suid-Afrikaanse landbou, vernuwing en samewerking. Of jy vir sake, inspirasie of ontspanning by die skou kom draai, sal die ervaring jou bybly.
