Nóg ’n aanval deur klapmus-bende in die Wynlande

Foto ter illustrasie. Foto: Argief.
Foto ter illustrasie: Argief.

Die Stellenbosch-polisie het vandees week bevestig dat vier mans Sondag, 5 Julie, by ’n huis in Onder-Papegaaiberg, in Stellenbosch ingebreek. Die gesin het omstreeks 02:00 wakker geskrik toe dié vier inbrekers die klaer in die bed verras het.

“Al vier het klapmusse en handskoene aangehad en was met messe, ’n skroewedraaier en ’n koevoet gewapen,” het Kaptein Nathalie Martin, ’n woorvoerder van die Stellenbosch-polisie, bevestig.

Rekenaars, fone gebuit

Die man en sy vrou is met ’n mes teen die nek met skoenveters vasgebind. Die paartjie se twee kinders, wat in hul eie kamers was, is ook vasgebind en na die hoofslaapkamer gebring.

Nadat die inbrekers die gesin se leë kluis deurgesoek het, het die groep drie Apple-skootrekenaars, drie iPhones, ’n Samsung-televisie en geld gebuit.

Die klaer se dogter het haar hande losgekry nadat die rowers gevlug het en alarm gemaak. Hoewel die gesin erg getraumatiseer is, was hulle ná die rooftog ongedeerd.

Die Stellenbosch-stadsaal.
Die Stellenbosch-stadsaal. Foto: Facebook.

Die skurke het die huis by ’n patiodeur binnegekom. Dié deur was toe, maar nie gesluit nie.

’n Soortgelyke rooftog het op Woensdag 10 Junie in dié woonbuurt plaasgevind toe ’n man om 02:45 wakker geskrik het met drie inbrekers in sy slaapkamer.

Soortgelyk aan die afgelope Sondag se geval, het een van hulle ’n mes teen dié klaer se nek gehou en hy is met skoenveters vasgebind. Die verdagtes, op soek na juwele en geld, het die man met die dood gedreig.

LEES | Vyf verdagtes vasgetrek ná skietery by Stellenbosch-winkelsentrum

Martin kon nie bevestig of die huisrooftogte verband hou nie, maar het inwoners gemaan om op hul hoede te wees vir verdagte persone in hul buurt.

Sy het inwoners ook gemaan om proaktief te wees en sekuriteit in en om hul wonings op te skerp.

Eikestadnuus het vanjaar oor verskeie voorvalle van huisrooftogte in onder meer Raithby, Stellenboschkloofweg, Bonniemile en Agter-Paarl berig.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie