Die nuwe leiers van die DA is gekies en Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het Sondag as die nuwe federale leier van dié party weggestap.
In sy toespraak het hy beklemtoon dat sy mandaat eenvoudig, maar uitdagend is: “Nou moet ons die grootste party in Suid-Afrika bou, ’n party wat sterk genoeg is om te wen.”
Nadat Hill-Lewis sy mededinger, Sibusiso Dyonase (Sedibeng-koukusleier), geloof het, het hy eer betoon aan die DA se vorige leiers: Tony Leon, Helen Zille, Mmusi Maimane en John Steenhuisen.
“John het die DA vir die eerste keer in ons geskiedenis in ’n nasionale regering in gelei. John het gesê: ‘Ons is hier om te regeer. Ons is hier om ’n verskil te maak.’ En John verdien ons dank en ons waardering dat hy die party na daardie oomblik gelei het.”
Vir Hill-Lewis het elke generasie leiers iets gebou waarop die volgende generasie kon voortbou. “Die vraag is of die DA die land kan lei, of ons die grootste party in die nasionale regering kan word,” sê Hill-Lewis.
“En as jul nuutverkose leiers is my antwoord ’n dawerende ‘ja’. Ja, ons kan!”
Als wat hy voortaan sal doen, sal die missie dien om die DA die grootste party in Suid-Afrika te maak.
Om dit reg te kry, moet daar volgende Hill-Lewis vier dinge gebeur:
- Die DA moet goed regeer, vir almal.
- Die party moet meer moeite doen om diegene te bereik wat nog nie vir die DA stem nie.
- Om ’n sterk en beginselvaste vennoot in nasionale regering te wees.
- Hulle moet met geloof in die toekoms en die land lei.
“Suid-Afrika is vol mense wat elke dag hard werk om beter lewens vir hul gesinne te bou. Hulle verdien ’n regering wat net so hard vir hulle werk.”
Die DA moet daardie beweging vir hulle wees, meen Hill-Lewis.
“Nie ’n beweging gebaseer op leë slagspreuke en vals beloftes nie. ’n Beweging gebaseer op aksie, ’n beweging wat sy moue oprol en regmaak wat gebreek is.”
Verder moet die vertroue in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel herstel word, kriminele sindikate moet gestop word en die kaping van die SAPD moet beëindig word.
“Suid-Afrika sal nooit die land word wat ons weet dit kan wees nie, totdat ons hierdie stryd wen.
“Ons kan mag in Suid-Afrika wen. Ons kan dit doen. Maar slegs as ons goed regeer, vir elke Suid-Afrikaner, teenwoordig is in elke gemeenskap, as ’n sterk en beginselvaste koalisievennoot optree en lei met geloof en optimisme.”
Die DA se ambisie moet wees om die nasionale regering te lei, dít sal die volgende hoofstuk in die party se “trotste geskiedenis” skryf.
“Laat ons nou hande vat en van hier af uitgaan na elke uithoek van ons pragtige land en laat ons saam ’n land bou wat werk!”
