Mense regoor die wêreld hou hul asem op oor die skietstaking tussen die VSA en Iran. Tóg hou Israel vir Libanon aanval en is dié ooreenkoms van meet af besonders broos nog voor die beoogde vredesamesprekings die komende naweek.
Ons het by kenners gaan aanklop om vir jou die nuutste nuus uit die Midde-Ooste met insig aan te bied. Hulle sê ook of Iran of die VSA as die wenners uit die oorlog gaan tree.
Oudpresident Jacob Zuma se hande kan moontlik weer in die staatskas krap indien sy party, uMkhonto WeSizwe, met volstrekte meerderhede of behulp van koalisies beheer oor munisipaliteite in die komende plaaslike verkiesing kry. Rede vir kommer of bangmaakpraatjies?

Wag daar ’n tweede Esidimeni-ramp op Suid-Afrika se jeug? Dit blyk so indien die plan om kinder-en-jeugsorgsentrums teen 2030 uit te skakel. Ons stel ondersoek in.
Lees ook meer oor nuwe navorsing oor die oudste honde-DNS, ’n regte varkhart wat vir die eerste keer vir ’n kamma-operasie in Binnelanders gebruik is en als oor die Artemis II-reis wat ruimtevaarders die verste nog van ons tuisplaneet af stuur.

Op die sportblaaie bekyk Oom Rugby risko’s en belonings deur die groot (én kontroversiële) oomblikke van die Stormers se nederlaag teen die Franse klubspan Toulon te analiseer.
Hennie Koortzen skryf oor die nuwe SA Onder-23 Beker-reeks wat gemengde gevoelens by talle rugbyliefhebbers ontketen. Kleiner rugby-unies se afrigters soos Jimmy Stonehouse, Hawies Fourie en Pieter Bergh gesels met Die Papier oor die positiewe en negatiewe aspekte van dié toernooi.
Al hoe meer Suid-Afrikaners dobbel en kenners waarsku dat hierdie spiraal van swaarkry, skuld en onsekerheid dringende ingryping verg. Sal ’n moontlike dobbelverbod help?

Die Papier gesels ook met Erik Holm oor sy onlangse Safta-toekenning, sy Binnelanders-rol van 16 jaar lank en sy liefde vir houtwerk.
Dít en nog vele meer in die splinternuwe uitgawe van Die Papier, wat van vandag af op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.
