Indië se minister van Onderwys, Dharmendra Pradhan, het Saterdag bedank nadat grootskaalse jeuggedrewe betogings sy bedanking geëis het weens woede oor ‘n reeks onreëlmatighede met eksamens wat lewensveranderend vir studente kan wees.
Duisende jongmense het dié week in die hoofstad en ander dele van die land byeengekom onder die vaandel van die sosiale media-gedrewe Cockroach Janta Party (CJP). Hulle het ‘n omvattende hervorming van die onderwysstelsel en Pradhan se bedanking geëis.
“Ek is diep ontsteld oor die gebeure van die afgelope tien dae. Dit gaan vir my nie oor persoonlike aansien nie,” het Pradhan in ‘n verklaring op die sosialemediaplatform X gesê.
“Ek het my bedankingsbrief aan die eerste minister gestuur,” het Pradhan in sy brief in Hindi geskryf.
Die CJP het ná Pradhan se bedanking gesê al hul eise is tydens ‘n verdere ronde samesprekings ingewillig en dat hulle die betogings, wat op die Jantar Mantar-betogingsterrein in sentrale Nieu-Delhi gesentreer was, beëindig.
Die polisie het vroeër die week traangas gebruik en betogers met knuppels uitmekaar gejaag toe hulle van die terrein na die parlement probeer opruk het.
Die regering het Maandag en Vrydag twee rondes samesprekings met CJP-leiers gevoer, maar aanvanklik is min vordering gemaak omdat die jeugbeweging by sy eise gehou het.
Pradhan het sy bedanking aangekondig voordat ‘n derde ronde samesprekings sou plaasvind.
“Indië se jeug is die land se grootste krag. Ek is vasbeslote dat ons nie sal toelaat dat die land se jongmense in ‘n bose kringloop van onsekerheid vasgevang word nie,” het hy gesê.
‘Ons het dit reggekry’
Betogers het in gejuig uitgebars ná Pradhan se aankondiging.
“Ons het dit reggekry,” het CJP-stigter Abhijeet Dipke onder luidkeelse toejuiging van honderde betogers gesê.
Die beweging het sedertdien uitgebrei om ook kwessies soos werkloosheid, geleenthede vir jongmense en wat kritici beskryf as eerste minister Narendra Modi se toenemend outoritêre regeringswyse, in te sluit.
Die betogings het een van die grootste uitdagings vir Modi se Hindoe-nasionalistiese regering geword sedert sy herverkiesing in 2024.
Volgens CJP-woordvoerder Ashutosh Ranka het die betogers ook geëis dat slagoffers van eksamen-onreëlmatighede vergoed moet word en dat strafregtelike sake teen betogers teruggetrek moet word.
Indië se opposisieleier, Rahul Gandhi, het sy steun aan die betogers toegesê en Pradhan se bedanking as “‘n groot stap” beskryf.
Gandhi het Modi versoek om “om verskoning te vra” en studente en Indië se toekomstige geslagte met respek te behandel.
“Daar moet opgetree word teen diegene wat verantwoordelik is vir geweld teen studente,” het hy gesê.
Sunil (27), wat Saterdag vir die eerste keer die betoging bygewoon het om “die atmosfeer te beleef”, het gesê dit was “werklik elektries, veral ná die minister se bedanking”.
“Wat die jongmense gedoen het, is prysenswaardig,” het hy aan AFP gesê.
