Oogpunt: Ons luggehalte ook gekaap

Een van Vanderbijlpark se fabrieke kan skaars gesien word as gevolg van die besoedeling.
Een van Vanderbijlpark se fabrieke kan skaars gesien word as gevolg van die besoedeling.

Die skokverslag van die Air Quality Index (IQAir), waaroor Die Papier verlede week verslag gedoen het, wys dat Suid-Afrikaners lank reeds, sonder enige taal of tyding, al hoe erger besoedelde en spesifiek giftige lug op onaanvaarbare vlakke inasem.

Vandeesweek berig ons dat inwoners van Vanderbijlpark nie eens daarvan bewus was nie dat op sommige dae onlangs dit ongesond was om buite te oefen, of die huis sonder ’n masker te verlaat. Alle vensters en deure moes eintlik toe gewees het.

Maar hoe moes hulle weet? Met korrupte en gekaapte owerhede op alle vlakke sou dit nie gebeur nie.

Dit is immers hulle wat telkens wegskram van die toepassing van beheervlakke oor nywerheidsbesoedeling. Daar is filters beskikbaar om uitlaatstowwe grootliks te suiwer, maar op aandrang van die betrokke nywerhede word die toepassing van die regulasie telkens uitgestel. In ons huidige situasie van regering-sonder-inbors sal ’n mens nie kwalik geneem kan word om te wonder hoe daardie oorre­ding plaasvind nie.

Fabrieke in Vanderbijlpark is een van die oorsake van erge lugbesoedeling.
Fabrieke in Vanderbijlpark is een van die oorsake van erge lugbesoedeling.

Adv. Francois Botes SC slaan die spyker op die kop wanneer hy verklaar: “Die groot nywerhede het in ’n mate arrogant geraak wat lugbesoedeling betref.”

Gelukkig het die howe reeds beslis dat die staat aanspreeklik gehou kan word. Dit wanneer hy versuim om die grondwetlike reg te handhaaf van ’n omgewing wat nie skadelik vir mense se gesondheid of welsyn is nie. Die toename in ernstige sinusitis, longsiektes, kanker en selfs verwante sterftes in van die gebiede skep ’n basis en noodsaak vir optrede.

Suid-Afrikaners sal die situasie­ in eie hand moet neem. Hulle gaan vinnig op hoogte moet kom van wat die lugsituasie in hul direkte omgewing is en daarvolgens begin om ongekende druk toe te pas. Laat Vanderbijlpark se skole byvoorbeeld sport toe op dae wat buitenshuise oefening as gevaarlik aangedui word?

Owerhede op alle vlakke moet aangemaan word. Die oortredende nywerhede moet uitgewys, gelys en in die openbaar genoem word.

Politieke partye en kandidate wat nou vir die plaaslike verkiesing staan moet vir standpunte hieroor gedruk word. Hulle moet hul aksieplanne kan wys.

Gemeenskappe sal klasaksies moet begin oorweeg en selfs indi­vidue kan ’n strafregtelike klag indien. Doen dit. Bewyslas is ’n groot kwessie, maar al hoe meer data is beskikbaar en kan met behulp van die nodige kenners versamel word. Indien die staat magte het om filters af te dwing, sal data ook by die owerhede en selfs die oortredende nywerhede beskikbaar wees.

’n Eenvoudige eerste stap is om instansies soos IQAir se webwerf by iqair.com gereeld te besoek.

Enige stad of dorp se luggehalte kan daar gemonitor word. ’n Gratis toepassing IQAir AirVisual kan ook daar afgelaai word. Die giftige lug wat veral inwo­ners van brandpuntprovinsies soos Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat en Noordwes moet inasem, is onaanvaarbaar. Dit geld ook vir nywerheidskonsentrasies in ander skoner provinsies.

Hierdie gaan nie oor die kwessie dat ontwikkeling ook nodig is nie. Dit gaan oor winsgierigheid waardeur lug vergiftig word. Indien owerhede net bestaande regulasies sonder vertraging toepas, sal dit reeds beter gaan.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos