Oogpunt: Roete na post-Madlanga SA gevra

Mbuyiseli Madlanga.
Mbuyiseli Madlanga. Foto: Frennie Shivambu, Gallo Images.

“Something is rotten in the state of Denmark.” – Marcellus in Shakespeare se Hamlet.

’n Aanhaling wat die weeklikse drama voor die Madlanga-kommissie treffend opsom. Toegepas op Suid-Afrika.

Die omvang van kaping van groot dele van die regstelsel in die land, infiltrasie van sleutel-staats­departemente en waarskynlik ook ministeries, is selfs meer as wat ’n mens uit die werksaamhede van die destydse Zondo-kommissie kon aflei.

Dit blyk ook meer en meer dat die Cyril Ramaphosa-­era die gevaar loop om histories gedefinieer te word as die kleed van ordentlikheid, waaragter selfs erger vergrype, in sommige opsigte, as in die Jacob Zuma-era plaasgevind het.

Nou verstaan ons ook waarom vervolgings uit die data van die Zondo-kommissie meermale in die sand vasgeval het.

Wat wel pla, is wat met enige bevindings van die kommissie gaan gebeur. In vele opsigte is van die getuienis voor die kommissie blote bewerings en ook gevul met teenstrydighede. Dit is dan oor na die kommissarisse om die koring van die kaf te skei. Tot nou toe kry hulle die voordeel van die twyfel met die doelgerigte manier waarop hulle rolspelers, wat voor hulle beland, ondervra. En telkens uitvang oor teenstrydighede.

Uiteindelik sal enige bevindings deur die kommissie onderworpe aan toetsing in die howe wees. Dit kan pogings tot vervolging maande en selfs jare uitrek. Dit, indien dit wel by ’n gewillige sektor van ons reeds gekompromitteerde vervolgingsgesag beland.

Wat kommerwekkend is, is dat daar ook sprake is dat die einste vervolgingsgesag aan ’n staats­program om die salaris­rekening te verminder, deelgeneem het. Met tot 40% van die totale staatsre­ke­ning wat aan salarisse gaan, sal almal so ’n oefening verwelkom.

Maar die rasionaal sou wees om van die nuttelose sektore ontslae te raak. Nie kundiges in die vervolgingsgesag, van wie sommige relatief onlangs gewerf of gekontrakteer is nie – iets het inderdaad verrot in die staat van Suid-Afrika.

Moet ook nie glo dat korrupte amptenare, wat reeds goed nesgeskop het in vele sektore van ons staatshuishouding of hul sindikaatmeesters, die wyk gaan neem nie.

Hulle sal voortgaan om te plunder en selfs enige politieke verandering probeer oorleef. Dit deur die nuwe rolspe­lers bloot te ondermyn.

Hier moet ’n kollektiewe en onge­kende poging, deur alle sektore van die samelewing, volg om ons land terug te vat. Dit is amper verstommend hoe daar steeds eerbare amptenare is, wat meermale na vore tree om die korrupsie uit te rook en dan selfs met hul lewe daarvoor moet betaal. Baie wat nie aan korrupsie meedoen nie, het besluit dit is veiliger om gewoon ander pad te kyk. Dit ook om te oorleef vir hul volledige diensjare ter wille van ’n haalbare pensioen.

Dit is alte maklik om hulle kwalik te neem indien ’n mens nie self in daardie situasie is nie.

Hopelik is daar eendag ’n verhaal van hoe kreatiewe Suid-Afrika­ners die nuwe narratief genavigeer het om die korruptes uit te rook, goeie regering in plek te kry en die kritieke mikpunt van betekenis­volle ekonomiese groei aan die gang te kry. Durf ons hoop?


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos