Terwyl die land nou vasgenael sit oor die All Blacks se Greatest Rivalry-toer, kan Suid-Afrikaanse politici dalk ’n les of wat uit die toer en die rugbyspel leer.
Een van die kritieke statistieke in rugby is tot hoe ’n mate spanne hul besoeke aan die teenstanders se kwart- en doelgebied benut. Hulle moet so veel as moontlik van dié besoeke gebruik om punte aan te teken, anders is dit verlore kanse.
Tot nou het die All Blacks gemiddeld 4,2 punte per besoek aan die kwartgebied van die drie spanne waarteen hulle gespeel het, aangeteken.
Daarteenoor kon die Stormers, die Sharks en die Bulls gesamentlik net 2,3 punte per besoek naby die doellyn aanteken. Hulle het dus hul kanse verspeel deur nie doeltreffend deur te dring nie en deur onnodige foute te maak.
Om nie eers te praat van die eerste Bok-toets verlede Saterdag nie.
Suid-Afrikaanse kiesers is hoopvol dat opposisiepartye die politieke haas uit die hoed kan pluk om hul plaaslike regerings te red.
Hulle vertrou dus die partye sal op verbeeldingryke beleidsalternatiewe fokus; ook om maksimum steun van die ANC af te rokkel.
Energie wat op binnegevegte verspil word, is ’n versaking van die steun wat hulle van kiesers ontvang het.
Die DA, en nou ook die VF Plus, kan gerus hiervan kennis neem. Ook die irritasie dat hulle soms lyk of dit hul hooftydverdryf is om vlieë van mekaar af te vang. Dit kan daartoe lei, byvoorbeeld in die Wes-Kaap, dat ’n derde party soos die Patriotic Alliance (PA) met die steun weghardloop.
Of selfs ’n vleisbraai-wegblyery op stemdag kan gebeur.
Onlangse meningspeilings wys dat die DA in Johannesburg oor die 40% begin groei en in Tshwane saam met die VF Plus oor die 50% opmaak. Hulle is dus reeds in die ANC se kwartgebied en die doellyn wink. Om nou oor die bal te stry of aan te slaan, is ’n versaking van landsburgers se belange. Om die heeltyd vingers na die ander party te wys, is bloot ongeloofwaardig.
Dit geld ook die partyleiers wat swyg wanneer hul ondersteuners mekaar in vloektaal of rassistiese opmerkings op sosiale media takel.
In politieke terme is daar net een manier om punte aan te teken. Stippel die beleidsoplossings uit en oortuig mense só. Val die skuldige partye aan en los dié wat uiteindelik gaan moet saamspan, eerder uit.
Die indruk ontstaan ook dat partye te veel mense as plaaslike kandidate gebruik wat andersins nie werk sou gehad het nie. Kiesers behoort die gehalte van kandidate as kriteria te gebruik waar vir hulle min tussen partye te kies is. Anders gaan die spulletjie, soos onlangs in Johannesburg, bloot vir hulself salarisverhogings instem eerder as om dienslewering op te los.
Dit is al hier gevra. Waar is partye se plan vir die eerste dag van bewind-oorname, die eerste maand en eerste 100 dae? Waar wil hulle ná ’n jaar staan met dienslewering en stygende elektrisiteitskoste?
Die klomp is lief daarvoor om tot middernagtelike ure te vergader vir hul gunsteling-punt op die sakelys – wantrouemosies.
Beplan enige party om tot die middernagtelike ure te vergader oor dienslewering?
Enige antwoorde? Dink se blaaie is beskikbaar.
- Hierdie ‘Oopunt’ het in Vrydag, 21 Augustus, se uitgawe van Die Papier verskyn.
