Opera-legende Mimi Coertse (93) oorlede: FAK bring hulde aan ‘Onse Mimi’

Operasangeres Mimi Coertse.
Operasangeres Mimi Coertse. Foto: Facebook.

Met die afsterwe van Mimi Coertse neem die Afrikaanse kultuurwêreld afskeid van een van sy grootste stemme. Oor dekades heen het “Onse Mimi” sinoniem geword met uitnemendheid, dissipline en ’n onwrikbare trou aan die Afrikaanse lied.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, was Coertse nie net ’n wêreldbekende sopraan nie, maar ’n waardige draer van kultuur wat haar taal en haar mense met trots op die internasionale verhoog verteenwoordig het.

Mimi Coertse, een van die eerste musiekbeurswenners van die FAK in 1956, ontvang ’n geskenk van die destydse voorsitter, ds. D.P.M. Beukes, ná ’n konsert wat sy in Bloemfontein vir die FAK aangebied het.
Mimi Coertse, een van die eerste musiekbeurswenners van die FAK in 1956, ontvang ’n geskenk van die destydse voorsitter, ds. D.P.M. Beukes, ná ’n konsert wat sy in Bloemfontein vir die FAK aangebied het. Foto: Argief.

Coertse is Maandagaand in haar huis in Pretoria aan natuurlike oorsake oorlede, volgens ’n vriendin.

“Sy was ’n kulturele ambassadeur wat Afrikaans na die wêreldverhoog geneem het. Met haar uitsonderlike talent en toewyding het sy gehore reg oor Europa en Suid-Afrika betower en bewys dat Afrikaans ’n taal is wat in die hoogste kunsvorme leef.

“Soos Coenie de Villiers dit tydens haar 90ste verjaarsdagviering by die Voortrekkermonument gestel het: ‘Mimi Coertse het my geleer hoe mooi Afrikaans kan wees.’ Hierdie sentiment weerklink wyd – onder kunstenaars, gehore en die breër Afrikaanse gemeenskap,” sê Langner.

Die verbintenis tussen die FAK en Coertse strek oor etlike dekades. In 1950 ontvang sy as jong kunstenaar die FAK se musiekbeurs – ’n geleentheid wat die grondslag gelê het vir ’n merkwaardige internasionale loopbaan. Haar pad sou haar lei na die groot operahuise van Europa, veral die Weense Staatsopera, waar sy wye aansien verwerf het. Hierdie verbintenis met die FAK sou oor ’n leeftyd voortduur.

Ten spyte van haar wêreldroem het Coertse nooit haar verbintenis met Afrikaans versaak nie. Sy het die Afrikaanse kunslied met dieselfde erns en tegniese verfyning benader as die groot Europese repertoire en daarmee gewys dat taal en kultuur nie beperkings is nie, maar die beginpunt van identiteit en roeping.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie