Minister Gayton McKenzie verkeer onder toenemende druk om rekenskap te gee van bykans R31 miljoen wat aan Suid-Afrika se afvaardiging na vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi bestee is, terwyl kuns- en sportorganisasies sukkel om befondsing van sy departement te bekom.
Die departement van sport, kuns en kultuur het dié week in ’n parlementêre antwoord bevestig dat R30 945 370 bestee is, maar opposisiepartye sê die syfers laat meer vrae as antwoorde.
ActionSA en die DA het die minister gekritiseer omdat hy nie ’n volledige uiteensetting van die uitgawes verskaf het nie. McKenzie het erken dat hy nog nie kan bekend maak hoeveel sy eie reis die belastingbetaler gekos het nie, omdat sy persoonlike uitgawes nog nie van die totale besteding van die afvaardiging geskei is nie.
“Daar word van Suid-Afrikaners verwag om ’n enkele totaalbedrag te aanvaar, met die belofte dat die besonderhede later bekend gemaak sal word. ’n Minister wat nie rekenskap van sy eie uitgawes kan gee nie, versuim in sy plig om aanspreeklik gehou te word,” het ActionSA in ’n verklaring gesê.

Die departement het ’n afvaardiging van 18 amptenare na die toernooi gestuur, insluitend McKenzie, direkteur-generaal van sport en ontspanning, Cynthia Khumalo, twee ondersteuningspersoneellede en ’n projekspan van 14 lede. Hul internasionale vlugte en verblyf het R7 865 135 beloop.
Nog 20 kunstenaars was ook deel van die afvaardiging, hoewel hul name nie bekend gemaak is nie. Die res van die geld is bestee aan gasvryheidsuites, wedstrydkaartjies, ’n vertoningswedstryd met sokkerlegendes en inisiatiewe om Suid-Afrika internasionaal te bemark.
Die DA se woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, Leah Potgieter, het gesê dit is moeilik om die uitgawes te regverdig terwyl gemeenskappe regoor die land nie oor basiese sportfasiliteite beskik nie en nasionale spanne steeds onderbefonds is.
“Elke rand wat aan luukse reise en gasvryheid bestee word, is ’n rand wat nie in sportvelde, gemeenskapsfasiliteite en geleenthede vir jong Suid-Afrikaners belê word nie,” het sy gesê.
