Meer as 30 jaar ná Woody, Buzz Lightyear en hul speelgoedvriende die eerste keer gehore wêreldwyd bekoor het, is Toy Story terug met ’n verhaal wat aansluit by een van die grootste uitdagings wat moderne ouers probeer baasraak – die rol van tegnologie in kinders se lewens.
In die eerste lokprent van Toy Story 5, wat byna al ’n maand op die silwerdoek te sien is, staan die bekende speelgoed nie voor ’n nuwe eienaar of skurk nie, maar teen LilyPad, ’n tablet wat meen sy weet wat die beste vir die speelgoed se eienaar Bonnie (vertolk deur Scarlett Spears) is. Die storielyn plaas tradisionele speelgoed en digitale tegnologie teenoor mekaar.
Meer as net ’n stryd tussen speelgoed en skerms
Volgens Rianette Leibowitz van Johannesburg, die digitale kenner betrokke by die film, is die boodskap egter nie dat tegnologie die vyand is nie.
“Tegnologie is beslis nie sleg vir kinders nie. Dit gaan oor hoe ons dit gebruik,” sê sy. “Ons praat dikwels van skermtyd asof dit ’n mors van tyd is, maar die belangrike vraag is wat kinders op hul skerms doen en hoe tegnologie hul lewens beïnvloed.”
Leibowitz sê die fliek wys dat speelgoed en tegnologie nie teenstanders hoef te wees nie. Albei kan ’n belangrike rol in kinders se ontwikkeling speel wanneer dit verantwoordelik gebruik word.
“Tradisionele speelgoed bly belangrik, maar tegnologie het ook ’n plek. Dit help kinders om te kommunikeer, te leer en verbind te bly. Die geheim lê daarin om balans te vind.”

Sy meen baie ouers probeer tegnologie heeltemal uit hul kinders se lewens hou uit vrees vir die gevare daarvan, maar sê dié benadering is nie volhoubaar nie.
“Kinders leef in ’n digitale wêreld. Hulle gaan tegnologie by die skool, universiteit en later in die werkplek gebruik. Ons kan dit nie van hulle wegneem nie; ons moet hulle leer hoe om dit verantwoordelik te gebruik.”
Leibowitz sê digitale opvoeding begin reeds op ’n jong ouderdom. Kinders moet leer hoeveel tyd hulle aan toestelle bestee, watter inhoud hulle verbruik en hoe om hul privaatheid en aanlyn identiteit te beskerm.
“Ons moet kinders leer dat hulle in beheer van hul tegnologie moet wees – nie andersom nie.”
Sy beklemtoon ook die belangrike rol wat ouers speel. Volgens haar behoort ouers van kleins af saam met hul kinders oor tegnologie en aanlyn veiligheid te praat, eerder as om slegs reëls af te dwing.
“Wanneer ouers vroeg reeds belangstelling toon en saam met hul kinders oor tegnologie praat, voel kinders dit gaan oor beskerming en nie oor beheer nie.”
Balans, nie verbod nie
Hoewel Leibowitz glo tegnologie kan ’n waardevolle hulpmiddel wees, waarsku dr. Anke De Beer, kinderpsigoloog en digitale verslaafdheid kenner van Hartbeespoortdam dat onbeheerde toegang tot digitale platforms ernstige gevolge vir kinders kan inhou.
Volgens De Beer behoort die debat nie net oor skermtyd of kindervermaak te gaan nie, maar oor die inhoud waaraan kinders blootgestel word.
Sy wys daarop dat internasionale navorsing toon die gemiddelde ouderdom van eerste blootstelling aan pornografie ongeveer 9 jaar oud is. Daarby kom kuberafknouery, sosiale media en WhatsApp-groepe waar kinders maklik aan inhoud blootgestel kan word waarvoor hulle emosioneel nog nie gereed is nie.
“Wanneer ’n 6-jarige reeds seksuele gedrag naboots wat hy of sy aanlyn gesien het, praat ons nie meer van ’n ‘digitale slim generasie’ nie. Ons praat van ’n generasie wat te vroeg aan volwasse inhoud blootgestel word,” waarsku sy.

Ouers bly die belangrikste invloed
Brand sê waardes word in die huis gevestig en ouers bly die belangrikste invloed in ’n kind se lewe. Tegnologie verander nie daardie verantwoordelikheid nie.
Leibowitz voeg by dat ouers nie alleen hoef te staan nie. Die meeste toestelle, stroomdienste en sosialemediaplatforms beskik reeds oor ouerbeheer-verstellings en ouderdomsbeperkings wat gebruik kan word om kinders se blootstelling aan onvanpaste inhoud te beperk.
Volgens haar moet tegnologie nooit gesinstyd, gesprekke en tradisionele spel vervang nie.
“Die film herinner ons dat tyd saam as gesin steeds die belangrikste is. Tegnologie behoort verhoudings te ondersteun, nie te vervang nie.”

Wat sê die syfers
’n Studie wat verlede jaar deur UNICEF wat verlede jaar gedoen is toon:
- 70% van Suid-Afrikaanse kinders gebruik die internet sonder hul ouers se toestemming
- 67% van kinders wat al seksuele beelde gesien het, het dit op ’n aanlyn toestel gesien.
- Net 41% kinders sê hulle het al enige inligting oor aanlyn veiligheid ontvang.
