EFF-leier Julius Malema is Donderdag tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis in sy uitgerekte vuurwapensaak.
Malema se regspan het ná die uitspraak onmiddellik ’n aansoek om verlof tot appèl by die landdroshof in KuGompo-stad (Oos-Londen) ingedien.
Hy is in Oktober verlede jaar skuldig bevind op vyf aanklagte, waaronder die onwettige besit en afvuur van ’n vuurwapen tydens die EFF se vyfde verjaarsdagvieringe in 2018.
LEES | Staat oor Malema-vuurwapensaak: ‘Niemand is bo die gereg verhewe nie’
Landdros Twanet Olivier het in haar uitspraak gesê die hof streef daarna om ’n balans te handhaaf tussen die verskeie elemente van die strafreg.
Sy het gesê ’n vonnis moet regverdig teenoor die samelewing wees, maar terselfdertyd ook die beskuldigde se persoonlike omstandighede in ag neem.
Oor die erns van die aanklagte het Olivier gesê dit is kommerwekkend dat die verdediging en die beskuldigde erken het dat die afvuur van die geweer deel was van die beplanning van die EFF se verjaarsdagvieringe.
Volgens haar moes die organiseerders geweet het dat dié optrede die lewens van mense in die skare in gevaar sou stel.
Sy het beklemtoon dat daar geen regverdiging vir dié optrede is nie en dat dit nie bloot ’n interpretasie van die hof is nie, maar op die feite voor die hof gebaseer is.
Volg Die Papier vir meer.
