Pres. Cyril Ramaphosa op Jeugdag: ‘Vorentoe met die jeug van ons land, vorentoe! ’

Pres. Cyril Ramaphosa.
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS.

Vandag, vyftig jaar gelede het, het die Soweto-optogte teen Afrikaans as enigste onderrigtaal, die geskiedenis van Suid-Afrika onherroeplik verander.

Om die dag, nou gevier as Nasionale Jeugdag, te herdenk, het president Cyril Ramaphosa en verskeie ander ministers en belanghebbendes onder meer die gedenkmonument vir Hector Pieterson in Soweto besoek en mense in Johannesburg toegespreek.

“’n Halfeeu later onthou ons, vier ons en eer ons ’n generasie jong mense wie se moed, organisering en honger vir vryheid ’n keerpunt in die stryd teen Apartheid beteken het,” het Ramaphosa verduidelik.

Ramaphosa het ’n krans gelê by die Hector Pieterson-gedenkterrein in Soweto.
Ramaphosa het ’n krans gelê by die Hector Pieterson-gedenkterrein in Soweto. Foto: GCIS.

Hoewel sy ANC saam met ander rolspelers in die Regering van Nasionale Eenheid regeer, het Ramaphosa gevra of SA genoeg doen om geleenthede te skep vir die jeug om die opoffering wat die jong aktiviste van destyds se opofferings te eer.

Om dít te doen, moet die suksesverhale gepaardgaan met eerlikheid oor die uitdagings. Ramaphosa het die statistiek aangehaal dat 4,7 miljoen jongmense werkloos is, en dat werkloosheid onder jongmense op 46% staan.

Hulle is ook die portuurgroep wat die meeste deur gewelddadige misdaad en diefstal geraak word.

Tog is baie vordering gemaak in 50 jaar.

“Die Suid-Afrika van vandag is nie die Suid-Afrika van 1976 nie. Ons word nie meer regeer deur wette wat besluit wat ’n swart kind mag leer, waar hulle mag woon, watter werk hulle mag doen en watter toekoms hulle kan verbeel nie,” het Ramaphosa gesê.

“Daardie verandering het nie per toeval gekom nie. Dit is deur stryd gewen, deur ons Grondwet beskerm en deur die beleide en programme van ons demokratiese regering bevorder.”

Hy het ook aangevoer dat dit nie help om ongedokumenteerde buitelanders vir misdaad, werkloosheid en druk op openbare dienste te blameer nie. Die probleme moet voor ongelykheid, stadige ekonomiese groei en swakhede in dienslewering se deur gelê word.

Ramaphosa en Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur.
Ramaphosa en Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: GCIS.

Ramaphosa het ook, in komplement met die inisiatiewe van die regering, ’n beroep gedoen op werkgewers om jongmense ’n kans te gee.

“Ons moet verander hoe ons jongmense voorberei [vir die werkplek] van die begin af. Moenie ervaring vereis voordat iemand hul eerste kans kry nie.”

“Terwyl ons vir die volgende plaaslike verkiesings voorberei, moet jongmense sentraal staan in funksionerende munisipaliteite.

“Hulle moet ingenieurs, beplanners, ambagsmanne, watertegnici, elektrisiëns, dataspesialiste en entrepreneurs wees wat stede en dorpe bou.”

Volgens Ramaphosa is vandag ’n belangrike dag om te onthou waar ons vandaan kom, maar dat ons nie net onthou nie, maar ook aan die toekoms bou.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie