Pres. Ramaphosa: ‘Vryheid gaan gepaard met verantwoordelikheid’

Pres. Cyril Ramaphosa.
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Getty Images.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag ‘n mediavrystelling uitgereik waarin hy dit duidelik maak dat ingrypende hervorming nodig is rondom die land se immigrasiestelsel. Ook dat daar ander stelsels is wat gefaal het. Voorts het hy beklemtoon dat waar daar sprake is van misdadige optrede, die verantwoordelikes aanspreeklik gehou sal word en die reg sy gang gaan.

Vanaf die president

My mede-Suid-Afrikaners,

Môre, 30 Junie, is die datum wat verskeie groepe geïdentifiseer het vir betogings teen ongedokumenteerde immigrasie in Suid-Afrika.

Suid-Afrikaners het ernstige kommer uitgespreek oor onwettige immigrasie, grensbestuur, die druk op openbare dienste, misdaadsindikate wat ons immigrasiestelsel uitbuit en die impak wat hierdie uitdagings op gemeenskappe het. Hierdie bekommernisse is werklik en verdien om aangehoor te word.

Die reg om te betoog is in ons Grondwet verskans. Dit getuig van die krag van ons demokrasie dat mense hul griewe openlik kan uitspreek. Maar die reg om te betoog en die reg op vryheid van uitdrukking gee niemand die reg om ander te dreig of te intimideer, of om hulle aan vandalisme of geweld skuldig te maak nie.

Suid-Afrika is ‘n grondwetlike republiek wat deur die oppergesag van die reg regeer word. Die uitoefening van regte deur enige burger in ‘n grondwetlike demokrasie kan nie deur intimidasie, dreigemente of ultimatums bepaal word nie. Dit moet deur demokratiese instellings, bewyse en die oppergesag van die reg bepaal word.

Wat ons as burgers en as samelewing behoort na te streef, is om saam te werk om die regmatige bekommernisse wat baie Suid-Afrikaners geopper het, aan te spreek. Die regering het nie net die verantwoordelikheid om na hierdie bekommernisse te luister nie, maar ook om met doeltreffende optrede daarop te reageer. Burgers het die verantwoordelikheid om verandering vreedsaam en binne die raamwerk van ons Grondwet na te streef.

Die regering erken dat ons immigrasiestelsel ingrypende hervorming benodig. Ons versterk grensbestuur, verskerp die optrede teen ongedokumenteerde immigrasie, verbeter die integriteit van die asiel- en visumstelsels en tree op teen korrupsie wat immigrasiebeheer verswak het.

Ons erken ook dat waar ons stelsels gefaal het, dit reggestel moet word. Waar korrupsie onwettige immigrasie moontlik gemaak het, moet die verantwoordelikes aanspreeklik gehou word. Waar wetstoepassing onvoldoende was, moet dit verbeter.

Oor die afgelope paar weke het ons steun vir hierdie maatreëls en vir die regering se standpunt vanuit die hele samelewing ontvang. Ons het vergaderings gehou met die land se tradisionele konings en ander tradisionele en Khoi- en San-leiers, met vakbonde en sakeleiers, die geloofsgemeenskap en ander organisasies in die samelewing.

Vryheid gaan gepaard met verantwoordelikheid. Die reg om te betoog is een van die kenmerkende vryhede van ons demokrasie, maar elke reg bring ooreenstemmende verantwoordelikhede mee. Diegene wat beplan om te betoog, moet dit vreedsaam, wettig en met respek vir die regte, waardigheid en veiligheid van ander doen.

Waar daar sprake is van misdadige optrede, sal die verantwoordelikes aanspreeklik gehou word en die reg sy gang gaan. Ons moet die idee verwerp dat geweld of intimidasie geregverdig kan word op grond van griewe, politieke redes of omdat die oortreders beweer hulle is op een of ander manier uitgelok.

Sommige buitelandse burgers wat in Suid-Afrika woon, is wettig hier. Hulle werk, studeer, maak hul kinders groot, belê in ons ekonomie en lewer ‘n positiewe bydrae tot ons samelewing. Hulle is ook geregtig op die beskerming van ons wette en ons Grondwet.

Ons verwelkom die versekering van sommige van die organiseerders van die beplande betogings dat hulle geweld deur hul ondersteuners teenstaan. Hulle sal aan hierdie onderneming gehou word, want geen saak, hoe regmatig ook al, kan as verskoning dien om verantwoordelikheid vir gewelddadige dade te ontduik nie.

Ons verwelkom ook die steun van tradisionele, godsdienstige en gemeenskapsleiers, sowel as sake-, arbeids- en burgerlike organisasies wat opgeroep het tot verdraagsaamheid en respek vir die oppergesag van die reg.

Die bereiking van ‘n regmatige doel regverdig nie onwettige middele nie, of dit nou die hervorming van die land se immigrasieraamwerk of beter dienslewering is.

Die pynlike geskiedenis van die paswette herinner ons daaraan waarom die gesag om identifikasie te eis en immigrasiewette toe te pas, aan staatswetstoepassers behoort wat binne die Grondwet optree – nie aan privaat individue nie. Ongeag die motivering, is dit burgerlike regsuitoefening (vigilantisme) wanneer mense die reg in eie hande neem, en dit het geen plek in ons grondwetlike demokrasie nie.

Dit is ‘n verraad van die grondwetlike orde wat diegene wat sulke dade pleeg, beweer hulle verdedig. Dit is vigilantisme wat dun vermom is as patriotisme.

Ons mag nooit toelaat dat ons terugkeer na daardie pynlike hoofstuk van ons geskiedenis waar mense op straat voorgekeer is, hul identiteit ondersoek is en hul reg op vrye beweging deur agterdog en vernedering belemmer is nie.

Ons land se wetstoepassingsowerhede staan gereed om die oppergesag van die reg te beskerm. Laat ons saamwerk om gemeenskappe, ondernemings en individue veilig te hou, terwyl ons terselfdertyd mense se reg om vreedsaam te betoog beskerm.

Deur ons geskiedenis heen het ons moeilike tye oorkom, nie deur vrees of verdeeldheid nie, maar deur die reg bo wetteloosheid, dialoog bo konfrontasie en geregtigheid bo wraak te kies. Laat ons weer daardie pad kies. Laat ons sowel ons grense as ons Grondwet beskerm; sowel ons veiligheid as ons menslikheid. Ons is daartoe in staat, en ons móét dit doen.

Met vriendelike groete,

Cyril Ramaphosa


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie