President Cyril Ramaphosa het wetstoepassingsagentskappe opdrag gegee om die ondersoek na die moorde op vroue in en om Kempton Park te prioritiseer nadat ’n sesde liggaam Dinsdagoggend in KwaThema, Springs, gevind is. Boonop is daar nou ’n sewende lyk wat glo in Thembisa gevind is.
Die sesde lyk is die derde liggaam wat sedert Saterdag gevind is, nadat die liggaam van die vermiste drawwer Elizabeth Moselakgomo ontdek is. Al ses liggame is oor ’n tydperk van twee maande, tussen Julie en September, onder soortgelyke omstandighede gevind. Dit het vrese laat ontstaan dat ’n moontlike reeksmoordenaar aan die Oos-Rand werksaam kan wees.
“Ek praat namens ons almal wanneer ek my innige meegevoel betuig aan die families en gemeenskappe wat geraak word deur die moord op vroue wat onlangs in en om Kempton Park gevind is. Hierdie voorvalle veroorsaak vrees en onsekerheid in ons gemeenskappe, en veral onder vroue,” het Ramaphosa gesê.
Intussen het Ian Cameron, DA-LP, aan Die Papier gesê dat die polisie ’n 7de lyk, dié keer in Thembisa, gevind het. “Met die nuwe berig van ’n sewende liggaam in Tembisa word die situasie nog dringender. Maar ons moet steeds die bewyse volg, nie die opskrifte nie,” het Cameron gesê.
Volgens mediaberigte is die vrou se liggaam in ’n rivier gevind en was reeds gedeeltelik ontbind. Die slagoffer was ook gedeeltelik ontklee.

Die president het gesê hy het met die minister van polisie en die waarnemende nasionale polisiekommissaris gepraat, wat hom oor die ondersoek ingelig het.
“Ek het opdrag gegee dat hierdie sake geprioritiseer moet word en dat alles in die stryd gewerp moet word om die verantwoordelikes voor die gereg te bring,” het hy gesê.
“As regering deel ons die kommer van alle Suid-Afrikaners en betreur ons die lewens wat so wreed beëindig is. Ons wetstoepassingsagentskappe werk dringend daaraan om die feite vas te stel, gemeenskappe veilig te hou en die oortreder of oortreders voor die gereg te bring.”
Ramaphosa het beklemtoon dat wetstoepassingsagentskappe hierdie werk in vennootskap met burgers verrig.
“As nasie moet ons opstaan vir die regte, veiligheid en waardigheid van vroue en meisies. Terwyl ons dit doen, gaan ons harte uit na al die families wat deur die verskriklike gebeure in die Kempton Park-gebied geraak word.”
Hy het enigiemand met inligting versoek om na vore te kom.
“As iemand inligting oor hierdie voorvalle het, of as ’n familielid of vriend vermis word, kontak asseblief adjudant-offisier Elvis Manyike by 082 465 7249.”
