President Cyril Ramaphosa het gereageer op weke van landwye optogte, proteste en vigilante-gedrag teen ongedokumenteerde buitelanders met ’n vyfpuntplan teen onwettige immigrasie en ’n waarskuwing om die gereg in eie hande te neem
Ramaphosa het die nasie Sondag, 7 Junie, vanaf die Uniegebou in Tshwane toegespreek, waar hy erken het dat onwettige immigrasie vir baie Suid-Afrikaners ’n bron van kommer is. Hy het dié frustrasie gekoppel aan hoë werkloosheid, die stygende lewenskoste, armoede en ’n gebrek aan geleenthede.
“Elke persoon binne die grense van Suid-Afrika moet wettig hier wees, nie onwettig nie,” het hy gesê.
Hy het egter beklemtoon dat onwettige immigrasie nie die hoofoorsaak van Suid-Afrika se ekonomiese probleme is nie. Die werklike oplossing, het hy gesê, lê in vinniger ekonomiese groei, groter beleggings, industriële uitbreiding en die skep van miljoene werksgeleenthede.
Ramaphosa het ook erken dat migrasie ’n wêreldwye uitdaging is wat deur internasionale konflikte en onstabiliteit aangevuur word, en dat Suid-Afrika ’n verpligting het om mense wat werklik beskerming nodig het, by te staan.
Hy het toegegee dat daar tekortkominge was in die toepassing van immigrasiewette, korrupsie binne die stelsel en leemtes wat die publiek se vertroue ondermyn het, maar gesê die regering tree nou beslissend op.
Hy het gewaarsku dat geen burger of groep mense iemand op straat mag konfronteer om bewys van nasionaliteit te eis nie, en dat die regering sal optree teen diegene wat openbare kommer uitbuit vir “politieke, persoonlike of kriminele agendas”.
“Ons sal nie mislei of beïnvloed word deur sosialemediaveldtogte wat waninligting, vals nuus en leuens oor buitelandse burgers versprei nie,” het hy gesê.
Sy vyfpuntplan fokus op wetstoepassing, grensbeheer, die bekamping van korrupsie en hervorming van identiteitsisteme, die sluiting van wetlike skuiwergate en samewerking deur gemeenskappe.
Wetstoepassing
Die Grensbestuursowerheid het die afgelope jaar meer as 450 000 mense onderskep wat probeer het om die land onwettig binne te kom.
Toegewyde immigrasiehowe sal ingestel word om deportasies te bespoedig, terwyl die departement van indiensneming en arbeid vanjaar 10 000 inspekteurs gaan aanstel.
Strenger strawwe, insluitend tronkstraf, word beoog vir werkgewers wat ongedokumenteerde werkers in diens neem.
Grensbeheer
Die regering sal voortgaan om in moderne tegnologie, infrastruktuur en personeel te belê om die land se grense te beveilig terwyl wettige handel en reis vergemaklik word.
Ontvangssentrums vir vlugtelinge sal nader aan grensposte verskuif word, met Tshwane as die eerste sentrum wat vanjaar hervestig word, om asielaansoeke vinniger en billiker te verwerk.

Bekamping van korrupsie en hervorming van identiteitsisteme
Amptenare wat dokumente verkoop of onwettige toegang tot die land fasiliteer, sal ontslaan en strafregtelik vervolg word.
’n intelligente Bevolkingsregister met biometriese data sal geskep word, wat die grondslag vir ’n digitale ID vir alle burgers sal vorm.
Die groen ID-boekie sal uitgefaseer word omdat dit identiteitsdiefstal deur ongedokumenteerde buitelanders en misdaadsindikate moontlik maak. Nuwe regulasies sal binne drie maande aangekondig word.
Sluiting van wetlike skuiwergat
Ramaphosa het gesê immigrasiewette is “verdeel en dikwels teenstrydig” en dat bestaande leemtes gesluit sal word.
Die nasionale arbeidsmigrasiebeleid, wat maksimum kwotas vir gedokumenteerde buitelandse burgers in die arbeidsmark voorstel, is reeds afgehandel.
LEES | ‘Xenofobie sal SA só kos’
Die Wysingingswetsontwerp van Indiensnemingsdienste is deur die kabinet goedgekeur vir indiening by die parlement.
Die departement van kleinsakeontwikkeling sal saam met die Suid-Afrikaanse Plaaslike-regeringsvereniging (Salga) toesien dat alle klein- en informele ondernemings behoorlik geregistreer is, terwyl plaaslike informele ondernemings deur die Spaza-winkelfonds ondersteun sal word.
Samewerking deur gemeenskappe
Ramaphosa het gesê Suid-Afrika kan nie alleen optree nie en sal afgevaardigdes na ander Afrika-lande stuur om samewerkende oplossings te vind.
“Migrasiedruk kan nie slegs deur wetstoepassing aangespreek word nie. Dit vereis vrede waar daar konflik is, ekonomiese groei waar daar stagnasie is en geleenthede waar daar armoede is,” het hy gesê.
Hy het afgesluit met ’n beroep op eenheid: “Laat ons dit doen nie deur vrees, woede, haat of geweld nie, maar deur eenheid, vasberadenheid en respek vir die oppergesag van die reg.” op hul eise reageer.
