Springbok-afrigter Rassie Erasmus het getrou gebly aan sy doelwit om soveel moontlik spelers in sy groep die geleentheid te gee om hul hand op die hoogste vlak op te steek. Hy het 10 veranderinge aan sy beginspan gemaak vir Saterdag se Nasieskampioenskap-wedstryd teen Skotland in Pretoria.
Altesaam 10 spelers uit die wedstrydgroep van 23 wat teen Engeland gespeel het, is behou, aangesien die Bok-afrigter probeer om balans te vind tussen kontinuïteit en die verspreiding van werklading binne sy groep vir ’n uitdagende seisoen, wat ook die vier toetse teen Nieu-Seeland in Augustus en September insluit.
Die vyf spelers wat hul plekke in die beginspan behou ná verlede naweek se 45-21-oorwinning oor Engeland, is Jesse Kriel, Damian Willemse, Pieter-Steph du Toit, Paul de Villiers en Ruan Nortje.
Willemse het sy 50ste toets teen Engeland gespeel, terwyl De Villiers sy toetsdebuut gemaak het. Du Toit behou die kapteinskap nadat hy oorgeneem het ná Siya Kolisi se laat onttrekking.

Die ander spelers wat weer ’n kans kry, is Canan Moodie, wat van die bank na die beginspan skuif, asook Jan-Hendrik Wessels, Zach Porthen, Ben-Jason Dixon en Grant Williams, wat op die plaasvervangersbank aangewys is.
Die agterlyn het ’n vars voorkoms, met Aphelele Fassi wat saam met Edwill van der Merwe en Moodie die agterste drie vorm. Kriel en Willemse span kragte saam in die middelveld, terwyl die skakelpaar Handré Pollard en Embrose Papier die spel op hul tuisveld by Loftus Versfeld sal beheer.
Voorlangs vorm Boan Venter, Johan Grobbelaar en Wilco Louw die voorry, terwyl Cobus Wiese saam met Nortje in die slotposisies speel.
De Villiers, wat verlede week vir die beseerde Kolisi ingestaan het, kry weer ’n kans in die groen-en-goud saam met Du Toit en Evan Roos in vir die losvoorspelers.
Die plaasvervangersbank bestaan uit ses voorspelers en twee agterspelers. Wessels sluit by Ntuthuko Mchunu en Porthen in die voorry aan, terwyl Dixon, Vincent Tshituka en Elrigh Louw ekstra dekking voorlangs bied. Die twee agterspelers op die bank is Williams en Quan Horn.
Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Franco Mostert, Ox Nche, André Esterhuizen en Ethan Hooker is weens onderskeie beserings en pyne steeds nie beskikbaar vir keuring nie.
Die wedstryd begin om 17:40 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
