Senior regeringsamptenare het skerp kritiek uitgespreek teen Bokkieweek, ’n sporttoernooi wat jaarliks uitsluitlik vir Afrikanerkinders aangebied word.
Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, en die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het albei die byeenkoms op sosiale media gekritiseer. Die toernooi is van 6 tot 10 Julie 2026 in Naboomspruit, Limpopo, gehou.
“Skoolsportbyeenkomste uitsluitlik vir wit Afrikaanse kinders in ons land?” het Lesufi op X geskryf.
“Afrikaner Volkseie Sport (AVS) het ’n brief aan skole versprei waarin rugby-, netbal- en hokkieproewe vir ’n toernooi genaamd Bokkieweek aangekondig word wat slegs vir wit Afrikaanse leerlinge oop is.
“Hierdie Bokkieweek is niks anders as ’n rassistiese onderneming wat ’n skande vir ons demokrasie is nie.”
McKenzie het geantwoord: “Hierdie is absolute onsin wat ons nie sal toelaat nie. Mense wat na apartheid verlang steek weer hul kop uit.”
Die jaarlikse byeenkoms, wat sedert 1992 deur Afrikaner Volkseie Sport (AVS) aangebied word, het rugby-, hokkie- en netbalkompetisies vir spelers van o. 13- tot o. 19-vlak ingesluit. Duisende deelnemers neem deel namens 16 verskillende AVS-unies.
Die toernooi is volgens Suid-Afrika se provinsiale grense van voor 1994 gestruktureer. Kritici het daarop gewys dat slegs Afrikaanse skole blykbaar deelgeneem het.
Drie sportliggame, SA Rugby, die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging (Saha) en Netbal Suid-Afrika, het hulle van die toernooi gedistansieer.
Makhi Feni, voorsitter van die parlementêre gekose komitee oor onderwys, wetenskappe en kreatiewe bedrywe, meen die omstandighede rondom die toernooi moet ondersoek word en het die departement van basiese onderwys versoek om dit te doen.
“Dit is kommerwekkend dat ons eers deur mediaberigte van die Bokkieweek-byeenkoms moes hoor,” het hy in ’n verklaring gesê.
“Die omstandighede rondom die geleentheid moet uitgeklaar word, veral gegewe Suid-Afrika se geskiedenis en die beduidende vordering wat oor die jare gemaak is om eenheid en inklusiwiteit te bevorder.”
Feni sê die ondersoek moet fokus op die deelnamevereistes, of daar teen kinders gediskrimineer is wat wou deelneem, waarom daar so min inligting oor die byeenkoms beskikbaar is, asook die rol wat skoolhoofde en opvoeders gespeel het.
“Wanneer skoolsport met politieke of uitsluitende agendas geassosieer word, behoort dit alle Suid-Afrikaners te bekommer,” het Feni bygevoeg.
“Sport behoort leerders bymekaar te bring en wedersydse respek te bevorder, eerder as om verdeeldheid te verdiep of die indruk te skep dat transformasie en inklusiwiteit nie bevorder word nie.”
AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, het op sosiale media gesê die geleentheid is ’n kultuurbyeenkoms.
“Kultuurgeleenthede is heeltemal normaal,” het Kriel gesê.
“In Suid-Afrika is daar letterlik honderde kultuurbyeenkomste en geleenthede wat binne die land se verskillende kultuurgemeenskappe aangebied word.”
