’n Dringende hofaansoek om ’n omstrede R1,6 miljard-tender vir opvoedkundige materiaal vir laerskole te keer, kan reeds volgende week volg indien duidelikheid nie vinnig gekry word wat die omvang en raamwerk van die tesourie se ondersoek daarna is nie.
Skokgolwe het deur die land se boekbedryf getrek toe hulle reeds etlike weke gelede verneem het die onbekende Lighthouse Publishers, wat uit die bloute geregistreer is en nog nooit handboeke aan die onderwysdepartement gelewer het nie, die grootste deel – sowat R285m van die R1,6 miljard tender losgeslaan het.
Nadat dit Dinsdag in die media bekend geword het, het Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, dit duidelik gemaak die besluite val buite haar eie terrein en haar kommer daaroor uitgespreek. Sy het die tesourie versoek om die tendertoekennings, wat deur die basiese onderwysdepartement hanteer word, te ondersoek. Die tesourie keer dit finaal goed.
Een van die elf gevestigde en groter uitgewers wat in die tender deel, het reeds oor die naweek aan Die Papier bevestig dat ’n regsmening gekry is. ’n Bestuurlid wat in die “sensitiewe stadium” nie nog sy of die maatskappy se naam openlik wil noem nie, het Dinsdag gesê “met die jongste ontwikkeling sal ons nou na die tesourie uitreik en hoor wat die omvang en raamwerk van hul ondersoek sal wees”.
Regsbriewe aan die ministers van finansies en basiese onderwys is waarskynlik die volgende stap.
“Uitgewers van skoolhandboeke en ander materiaal is in ’n uiters moeilike situasie. Ons moet baie geld belê en die winsmarges in ’n hoogs kompeterende omgewing is laag.
“Daarom is dit moeilik vir uitgewers om openlik uit te kom, want dit kan ons besigheidsbelange, waaroor staatsamptenare moet besluit, skaad. Iewers moet ’n streep getrek word en ons is van mening dat alle kriteria en prosedures rondom die toekenning van die tender hersien moet word.
“Hopelik lei ’n goeie gesprek met die owerhede daartoe dat geen stappe verder nodig is nie.”
In nog ’n ontwikkeling het die DA (waarvan Gwarube ’n lid is) se woordvoerder oor basiese onderwys, Desiree van der Walt, gister gesê haar party is diep besorg dat die verskaffing van leermateriaal aan miljoene leerlinge deur korrupte individue in gedrang kan kom.
“Dit kan nie aanvaar word dat amptenare die manier van sake doen onder die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) as dieselfde beskou as die onder die vorige ANC-regering nie.”
Sy het die tesourie-ondersoek in haar verklaring verwelkom en gesê dit moet bepaal hoe ’n verskaffer met geen rekord van die verskaffing van handboeke nie, so ’n kontrak bekom. Gwarube kan dan optree waar nodig.
Luidens dokumente wat Die Papier vroeërbekom het en waaroor intussen elders in die media oor verslag gedoen is, het Lighthouse Publishers meer as 26% van die tender gekry, Oxford University Press amper 20% en die res van die uitgewers van sowat 9% tot 3% onderskeidelik.
Wat uitgewers ontstel, is dat Lighthouse Publishers min of meer gelyktydig geregisteer is met die onderwysdepartement se uitreiking van kontrakspesifikasies en vereistes. “Dit is hoe staatskaping bedryf word,” is gesê.
