Antonelli verower 1ste wegspringplek vir Monaco GP: ‘Dit was baie naby’

Max Verstappen, Kimi Antonelli en Lewis Hamilton.
Van links is Max Verstappen, Kimi Antonelli en Lewis Hamilton. Foto: Andrej Isakovic / AFP.

Die tienersensasie en wêreldkampioenskapsvoorloper, Kimi Antonelli, het Saterdag sy merkwaardige reeks suksesse voortgesit deur te verseker dat hy eerste sal wegspring in Sondag se Monaco Grand Prix.

Die 19-jarige Italianer het ’n tyd van een minuut en 12.051 sekondes gery om die Max Verstappen met 0.043 sekondes te klop in die laaste minuut van ’n opwindende kwalifiserende sessie wat beide Ferrari’s op die tweede ry van die wegspringrooster gelaat het.

Ná vier oorwinnings sal Antonelli daarop mik om die eerste Italianer te word wat vyf opeenvolgende wedrenne wen, ná Alberto Ascari dié prestasie in 1952 vir Ferrari behaal het, terwyl hy Mercedes se reeks van ses opeenvolgende eerste wegspringplek vanjaar verleng.

“Dit was een van daardie rondes wat ons ’n towerronde noem,” het ’n stralende Antonelli gesê nadat hy sy vierde eerste wegsrpingplek van die seisoen ingepalm en sy pa, Marco, omhels het.

“Ek kon alles perfek bymekaarbring en dit was só ’n noue kwalifisering teen Max. Ek dink daar was net een millisekonde tussen ons ná die eerste lopie in Q3. Ek het geweet die laaste rondte was goed, ek het net gehoop dit sou genoeg wees! Maar dit was baie naby.”

Die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton was derde voor Charles Leclerc, Isack Hadjar in die tweede Red Bull en Mercedes se George Russell, wat 43 punte agter Antonelli is in die kampioenskap.

McLaren se Oscar Piastri was vinniger as sy spanmaat en wêreldkampioen, Lando Norris, om die sewende plek op die rooster te verseker.

Antonelli se oorwinning was die eerste deur ’n Mercedes-jaer sedert Hamilton in 2019, en hy het ook die eerste Italianer geword om die eerste wegspringplek in Monaco te verower sedert Jarno Trulli dit in 2004 reggekry het.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie