Rugby-groottes groet SA klubspanne: Salmaan Moerat, Ruan Nortjé en David Kriel waai

Bulls-slot Ruan Nortjé.
Bulls-slot Ruan Nortjé. Foto: Facebook.

Dis drie groot name in rugby. Stormer-slot Salmaan Moerat het al drie keer die Bokke gelei, Bulls-langeraat Ruan Nortjé het nou al ’n bekende naam in die Bok-span geraak en Bulls-agterspeler David Kriel word te danke aan sy goeie spelpeil gereeld genoem as iemand wat by die Bok-oefengroep ingesluit moet word.

Met dit als in ag geneem, kom dit as ietwat van ’n skok dat dié spelers onderskeidelik die Stormers en Bulls agterlaat om oorsee te gaan rugby speel.

Moerat, wat ook vir die Westelike Provinsie se o.18-span en die Junior Bokke gespeel het, sal volgende seisoen glo vir Franse klub La Rochelle uitdraf.

“Salmaan versinnebeeld baie van waarvoor ons as span staan. Hy is ’n tuisgekweekte talent uit ’n bekende rugbyfamilie wat die respek van spanmaats en opponente verdien het deur sy onselfsugtige benadering op en van die veld af,” het Stormers-breier, John Dobson, gesê.

LEES | ‘A significant opportunity’: Moerat to leave Stormers for lucrative move to France

Nortjé sal sy 146 wedstryde vir die Bulls na aan sy hart hou wanneer hy aan die einde van die seisoen Japan toe verhuis om sy rugbyloopbaan daar voort te sit.

“As speler is verandering soms goed. Hy het ook ’n jong gesin om aan te dink, en dit is ’n nuwe geleentheid om die wêreld te verken. Hy het sy deel gedoen en hom gevestig as een van die ikone in die Bulls-trui deur die manier waarop hy speel en hom gedra,” het Bulls-afrigter, Johan Ackermann, gesê.

LEES | Sayonara to a stalwart: Bulls confirm Bok lock off to Japan

Vleuel, heelagter, senter? Noem ’n posisie in die agterlyn en Kriel sal dit moontlik kan speel . . . én boonop altyd een van die beste spelers op die veld wees.

Kriel, wat 143 wedstryde vir die Bulls gespeel het, sal ook aan die einde van die seisoen sy Pretoriase span verlaat om vir La Rochelle te gaan speel.

“Om afskeid te neem is nooit maklik nie, veral nie van iets wat soveel vir my beteken en ’n plek wat ek die afgelope ses jaar my huis genoem het nie. Dit is baie moeilik om totsiens te sê,” het Kriel gesê.

“Dit was ’n droom om vir die Bulls te speel sedert ek ’n jong seun was: Ek is net dankbaar teenoor almal wat dit vir my moontlik gemaak het om daardie droom te verwesenlik,” het hy bygevoeg.

LEES | End of Bulls journey: ‘Hard to say goodbye,’ says Kriel on emotional exit

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie