Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika, Tsakani Maluleke, se oudituitslae vir die 2024-2025 boekjaar is vandag bekendgemaak. Die verslag toon ’n skokkende R42,6 miljard se onreëlmatige uitgawes én R1,42 miljard se vrugtelose en vermorste besteding in die nasionale en provinsiale regering, openbare instellings en wetgewers.
Maluleke waarsku dat die regering se pogings om oudituitslae te verbeter, baie stadig vorder.
Volgens haar is die sewende administrasie nou al ’n jaar aan die gang, en steeds is daar min verbetering in finansiële bestuur, dienslewering en aanspreeklikheid.
Maluleke het ’n dringende beroep op die regering gedoen om in te gryp.
“Sonder beter bestuur, sterker toesig en werklike aanspreeklikheid sal dienslewering nie verbeter nie, en sal belastingbetalers die las dra,” waarsku Maluleke
Luidens die verslag het slegs 151 uit 417 instellings (36%) skoon oudits gekry. Hierdie instellings bestuur slegs 12% van die nasionale en provinsiale uitgawes van die begroting.
Die res, wat 88% van die begroting bestuur, het steeds ernstige probleme met finansiële bestuur en nakoming van die wetgewing.
Die sogenaamde “hoë-impak” instellings – wat verantwoordelik is vir dienste soos gesondheid, onderwys, infrastruktuur en watervoorsiening – bly volgens Maluleke onderpresteer. Hierdie instellings bestuur sowat 91% van die totale begroting, maar toon volgens haar die meeste swakhede.
Maluleke sê sy is erg bekommerd oor hoe die huidige administrasie sake bestuur.
Swak bestuur en swak interne beheer lei tot vermorsing en swak dienslewering. Dit word vererger deur min gevolge vir oortredings en ’n kultuur van straffeloosheid, benadruk Maluleke.
“Toe die huidige administrasie oorgeneem het, het ek aanbeveel dat daar aandag geskenk word aan die verbetering van die instellings se vermoë. Dis nodig sodat hulle hul mandate, strategiese programme én die regering se prioriteite kan uitvoer.”
“Ek het beklemtoon dat openbare instellings versterk kan word deur te verseker dat nasionale, provinsiale en die plaaslike regeringssfere gesamentlik beplan en sistematies en doelgerig werk, met ’n kultuur van prestasie, verantwoorbaarheid, deursigtigheid en institusionele integriteit.”
