Saak teen Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni en sy 3 medebeskuldigdes weer op hofrol geplaas

Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni (middel), saam met sy twee medebeskuldigdes, by ’n vorige hofverskyning.
Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni (middel), saam met sy twee medebeskuldigdes, by ’n vorige hofverskyning. Foto: NGV.

Die afpersings- en geldwasserysaak teen die Mpumalanga-taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni en sy drie medebeskuldigdes is weer op die hofrol geplaas, en sal na verwagting in die Delmas-landdroshof voortgesit word.

Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het verlede week dissiplinêre stappe ingestel en ’n aanklaer geskors wat skuldig bevind is aan minagting van die hof nadat hy versuim het om vir die borgtogverhoor in ’n hoëprofiel-afpersingsaak op te daag, wat daartoe gelei het dat die saak van die hofrol geskrap is.

Die NVG het nou ’n formele klag by die Landdroste-kommissie teen hooflanddros Tuletu Tonjeni ingedien en voer aan dat sy die reg verkeerd toegepas het in haar hantering van die verrigtinge.

Dié saak, wat groot reeds groot opslae gemaak het, sal nou weer voortgaan ná die aanklaer verduidelik het dat hy doodsdreigemente gekry het, het die nasionale direkteur van openbare vervolgings, advokaat Andy Mothibi, verduidelik.

“Die aanklaer is oukei, ons is besig om die interne proses af te handel wat gaan kyk na wat werklik gebeur het, want die aanvanklike inligting wat ons ontvang het, is dat hy boodskappe gekry het dat hy vermoor gaan word as hy hof toe gaan, aangesien hy op pad daarheen was,” het Mothibi aan die media verduidelik. Dié verskoning is ernstig opgeneem, maar nou kan die saak weer voortgaan.

Die voorval het op Maandag, 18 Mei, by die Kwaggafontein-landdroshof in Mpumalanga plaasgevind, waar beskuldigde Sibanyoni en ander tereg gestaan het op aanklagte van afpersing en geldwassery. Toe die aanklaer nie opgedaag het vir die voortsetting van die borgtogaansoek nie, het die landdros die saak van die rol geskrap en ’n lasbrief vir die arrestasie van die afwesige aanklaer uitgereik.

Die saak kon slegs weer op die hofrol geplaas word met skriftelike magtiging van die direkteur van openbare vervolgings vir die Mpumalanga-afdeling.

Mothibi het toe gesê hy is geskok en ontsteld oor die verloop van sake en het ’n beroep op die publiek gedoen om geduldig te wees terwyl die saak intern deur dissiplinêre optrede en ekstern saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens hanteer word.

“Hoewel dit teleurstellend is, is dit nie ’n terugslag nie aangesien ons binne ons reg en bevoegdheid optree om die saak weer in te stel sodra daar aan die wetlike bepalings voldoen word wat sake beheer wat op hierdie wyse van die hofrol verwyder is. Daar is geen plek vir die afwesigheid van die strafreg nie, aangesien ons vasbeslote bly in ons grondwetlike verpligting om diegene wat van misdadigheid beskuldig word, aanspreeklik te hou,” het Mothibi destyds gesê.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie