Inwoners van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley wie se vullissakke reeds meer as ’n week nie verwyder word nie, terwyl ander munisipale werk stilstaan omdat munisipale werkers staak, gaan dalk ook deur ’n betoging getref word. Dit als weens ontevredenheid oor ’n “munisipale krisis wat deur die ANC-regering geskep” is.
Die ANC het verlede week vyf van sy afvallige wyksraadslede, Margaret Molatudi, Itumeleng Lekoma, John Diphahe, Yvonne Tau en Christopher Lephoi, afgedank. Die raadslede het 21 dae om teen die bevindinge te appelleer.
Die ANC in die Frances Baard-streek sê die vyf raadslede is met onmiddellike effek uit die party gelig nadat hulle skuldig bevind is aan ernstige wangedrag en die verbreking van die ANC-grondwet. Hulle is ook van die raadslidlys verwyder.
Raadslede soos ‘afstandbeheerde masjiene’ behandel
Kritici, onder meer die plaaslike nuusplatform MyNorthernCape TV, noem die skuif “politieke arrogansie” en sê raadslede word soos “afstandbeheerde masjiene” behandel eerder as verteenwoordigers van die gemeenskap.
Dié platform het ook vir Deshi Ngxanga, ANC-provinsiale sekretaris, as hul sogenaamde “Moegoe van die Week” aangewys weens wat hulle beskryf as arrogante en ontkoppelde leierskap. Ngxanga verwerp die kritiek as “disinformasie” en hou vol hul fokus is op stabiliteit in die munisipaliteit.
Volgens ingeligtes is die vyf afgedankte raadslede se oortreding dat hulle nie ANC-opdragte gevolg het nie en saam met opposisieraadslede ’n spesiale virtuele raadsvergadering gehou het om die begroting ter tafel te lê.
LEES | Provincial oversight turns to litigation: Coghsta takes Sol Plaatje to high court
Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, wil dié begrotingsvergadering in die hof ongeldig laat verklaar. Sy besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas word egter deur die stadsbestuurder, Thapelo Matlala, in ’n teenaansoek betwis.
Die aansoeke word op 29 Mei aangehoor.
Speaker Dipuo Peters en burgemeester Martha Bartlett probeer reeds sedert verlede jaar om Matlala oor beweerde bedrog te laat afdank, maar hul hofaansoeke het telkens misluk weens hul onreëlmatige prosesse.
