Sharks-eienaar spoel ook mond uit oor SA Rugby se Kampioenebeker-besluit

Marco Masotti, eienaar van die Sharks.
Marco Masotti, eienaar van die Sharks. Foto: Steve Haag Sports/Gallo Images.

SA Rugby-president Mark Alexander se aankondiging by verlede week van ’n hersiening in Julie oor Suid-Afrikaanse franchises se deelname aan Europese kompetisies, het hewige debat in plaaslike rugbykringe ontketen.

Alexander het gesê spelerswelstand is die hoofrede vir die hersiening, en het verwys na spelers wat tot 11 maande van die jaar in aksie is.

LEES | Schalk Burger sr. kap na SA Rugby: ‘Ons moes nooit Sanzaar verlaat het nie’

Hoewel Alexander nie spesifiek die Europese Kampioenebeker by die naam genoem het nie, dui bronne daarop dat dié toernooi die een is wat die sterkste oorweeg word vir hersiening of moontlike onttrekking.

Marco Masotti, eienaar van die Sharks, het in ’n eksklusiewe onderhoud met KickOff Rugby saamgestem dat spelerswelstand ’n bekommernis is.

“Ek is baie bekommerd oor spelerswelstand,” het hy gesê. “Dit is ’n belangrike gesprek.”

Masotti het egter gesê dit is van kardinale belang dat Suid-Afrikaanse franchises in die wêreld se beste rugbykompetisies speel.

Die Kampioenebeker word deur baie rugbykenners as die beste van dié kompetisies beskou, aangesien dit die top-spanne van Europa en Suid-Afrika bymekaarbring, insluitend spanne uit Frankryk se Top 14, die rykste rugbyliga ter wêreld.

Masotti het ook SA Rugby bevraagteken oor besluite wat groot finansiële implikasies vir franchises in Suid-Afrika het, wat privaat befonds word.

“Dit is belangrik vir rugby dat ons in die klubspel belê en dat Suid-Afrikaanse franchises in die mees hoëprofiel- en winsgewende kompetisies speel,” het Masotti gesê.

“Die groot Suid-Afrikaanse franchises werk teen ’n verlies, en iemand soos ek moet daarvoor opdok.

“Die model waarvolgens Saru besluite neem vir private besighede en effektief die koste van die finansiering van rugby in Suid-Afrika op die groot unies afskuif, is nie volhoubaar nie.”

Masotti het gesê plaaslike diepte, en daardeur spelerswelstand, sal makliker bereik kan word indien franchises ’n groter deel van die inkomste uit deelname aan topkompetisies ontvang.

“Ons het ’n baie groter deel van die koek nodig sodat ons plaaslike diepte kan bou en spelerswelstand beter kan bestuur.

“Laat ek duidelik wees: Ek sal nie langer die verliese finansier nie, en al die eienaars sal dieselfde voel, as ons aan die Kampioenebeker onttrek.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie