Suid-Afrikaanse rugby staan voor ’n besluit, en dit kan ’n enorme impak op Europese rugby hê.
In Julie sal SA Rugby se leierskap vergader om ’n moontlik nuwe Rubicon oor te steek . . . Gaan die Bulls, Stormers, Sharks en Lions aan Europese kompetisies onttrek?
Spelerswelstand is die grootste bekommernis, maar geld en uitslae behoort ook as moontlike faktore oorweeg te word.
LEES | VRK: Stormers buit darem bonuspunt uit teleurstellende 22-16 verloor teen Cardiff
Toe hy hierdie week by die algemene jaarvergadering gepraat het, was SA Rugby-president Mark Alexander reguit oor die situasie.
“Ons genereer ons inkomste deur aan toernooie deel te neem. Deelname is belangrik, maar ons spelers is oorwerk,” het hy gesê.
“Ons gaan in Julie ’n werksessie hou waarin ons sal moet besluit watter kompetisies behou gaan word en van watter ons ontslae kan raak. Ons moet ’n balans vind sodat ons spelers genoeg kan rus. Hulle kan nie 11 maande van die jaar speel nie.”
Hy het bygevoeg dat die unie weet moeilike besluite moet geneem word.
“Ons moet moeilike besluite as organisasie neem, en ons gaan dit oor die volgende maand of twee doen. Dit moet in die beste belang van ons spelers gedoen word.”
