Siviwe Gwarube skort nuwe katalogus vir die grondslagfase op vir 2027-skooljaar

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys. Foto: Facebook.

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het besluit om die nuwe nasionale katalogus vir die grondslagfase op te skort, en dat die bestaande katalogus van voorheen goedgekeurde grondslagfase-leermateriaal steeds vir provinsies en skole beskikbaar sal wees vir die 2027-skooljaar.

Dit het vroeër bekend geword dat die maatskappy Lighthouse Publishers, wat letterlik binne dae gestig is, op omstrede wyse die toekenning gekry het vir lewering van die meeste boeke vir die katalogus. Dit ten koste van gevestigde en ervare uitgewers.

“My eerste verantwoordelikheid is om ons leerders te beskerm en te verseker dat skole gereed is vir die 2027-akademiese jaar. Ek sal nie toelaat dat onsekerheid rondom ’n verkrygingsproses tot onsekerheid in ons klaskamers lei nie,” het Gwarube in ’n persverklaring van haar departement gesê.

Die besluit is geneem in die beste belang van Suid-Afrika se onderwysstelsel en veral sy 13,7 miljoen leerders.

“Die ondersoek het wesenlike probleme uitgewys wat nie geïgnoreer kan word nie. Terselfdertyd kan miljoene kinders se onderwys nie opgehou word terwyl dié bevindings aangespreek word nie. Ons kan en moet albei doen: die integriteit van die proses beskerm en verseker dat skole die materiaal het wat hulle nodig het.”

Volgens die verklaring het die minister duidelik dat die integriteit van die onderwysstelsel en die belange van leerders steeds die hoogste prioriteit bly.

Hoewel die uitkoms van dié tenderskok nog nie sy uitkoms bereik het nie, sal die departement glo saam met provinsies en ander belanghebbendes werk om bestellings- en verspreidingstydlyne te beskerm.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos