Al opgelet hoe ongeskik en onvanpas mense kan wees aanlyn, of dit nou in kommentare op sosiale media is of op ’n WhatsApp-groep? Dié verskynsel word die aanlyn-disinhibisie-effek genoem, en is ook die rede hoekom baie jongmense so maklik slagoffers word van aanlyn-uitbuiting.
Esteé Cockcroft, ’n media- en kommunikasiekenner van Gqeberha en mede-skrywer van die boek Skermslim: ’n Gids vir veilig speel in die digitale ruimte, sê alles begin by die brein.
“Tydens ’n aanlyn- of WhatsApp-gesprek word ’n gedeelte van die brein geaktiveer wat ’n mens laat vergeet dat jy eintlik met ’ ander mens praat.”
Volgens Cockcroft bly goeie maniere en empatie maklik aanlyn in die slag.
Die disinhibisie-effek veroorsaak ook dat mense – tieners én volwassenes – nie normale grense handhaaf nie. “Soms wys ouers vir my boodskappe van boelies, en wanneer jy die kind ontmoet, kan jy nie glo hy of sy het daardie boodskap geskryf nie.”
Hierdie sielkundige verskynsel is ook die rede hoekom tieners die ideale prooi is vir aanlynboelies en skurke.
Wanneer ’n tiener gevra word vir bv. ’n naakfoto, is dit dus soveel makliker om nie aan die nagevolge te dink nie, want die gesprek voel nie werklik nie.
Baie om te verloor
Cockcroft glo kinders jonger as 13 jaar behoort nie slimfone te hê nie, en ondersteun ’n sosiale media-verbod vir almal onder 16. Dié reël geld ook vir haar eie kinders.
“Ons moenie net vra watter skade dit kan veroorsaak nie, maar ook of daar enige voordele daarin is.”
Sy is baie beslis daaroor dat slimfone en onbeperkte internet-toegang allesbehalwe onskadelike vermaak is.
“Kinders verloor tyd, hulle gaan akademies verloor, hulle verloor die kans op sosialisering . . . Daar is soveel om te verloor, en daar is absoluut niks om te wen nie.”
Sy wys ook op die hoogs verslawende aard van sosiale media, en sê selfs volwassenes sukkel hiermee.
“Hoekom sal jy dan iemand met ’n onvolwasse prefrontale korteks blootstel aan die wêreld se beste sagteware-ontwikkelaars wat sessyfer-dollarsalarisse betaal word om sosiale media so verslawend moontlik te maak?”
Cockcroft glo dis ’n kwessie van tyd voordat meer lande ouderdomsperke instel vir sosiale media.
Sy glo die hofsaak wat Meta (voorheen Facebook) onlangs in die VSA verloor het juis oor die verslawende aard daarvan, sorg vir groter bewusmaking.
“Ons breine word gekaap deur sosiale media, en die impak op kinders is massief. Dit veroorsaak angs, depressie, ’n slaaptekort . . . en dit alles lei tot selfmoordgedagtes.”
Volgens Cockcroft is die grootste risikogroep vir selfmoord in Suid-Afrika tans kinders tussen 11 en 16 jaar oud.”
Seksafpersing
Cockcroft sê statistiek hieroor is skaars in Suid-Afrika, maar vertel dat sy in ’n kwessie van ’n jaar met vyf gevalle in Gqeberha te doen gehad het. “Vier was tieners van so 13, 14. Die vyfde persoon – ’n bekende sakeman – het sy eie lewe geneem as gevolg daarvan.”
Ongelukkig, sê Cockcroft, word sulke klagtes maklik deur sosiale media platforms onder die mat ingevee.
Sy het ook al met kinders so jonk as 13 jaar te doen gehad wat aan digitale pornografie verslaaf is.
Sagteware wat kan keer
Cockcroft benadruk die belangrikheid van gesprekke tussen ouers en tieners oor aanlynveiligheid, en sê ouers moet te alle tye weet wat hulle kinders op hul selfone doen.
Daar is wel sagteware wat jy op ’n kind se foon kan installeer wat hiermee sal help.
Cockcroft beveel Bark Parental Controls aan. Dié sagteware – wat op ’n kind se foon verskans kan word sodat dit nie sommer net verwyder kan word nie – gebruik kunsmatige intelligensie om te monitor waar jou kind aanlyn kuier.
Dit monitor ook gesprekke op platforms soos WhatsApp, Snapchat en sosiale media vir terme wat vir ouers dalk heel onskuldig kan voorkom, maar eintlik dui op seksuele of eksplisiete aktiwiteite. “Dit waarsku jou as ouer dan ook daaroor en stuur vir jou ’ waarskuwing.”
Bark interpreteer selfs suggestiewe emoji’s.
“Jy kan ook sekere webwerwe en internetsoektogte blokkeer, en bv. keer dat jou kind toegang het tot webwerwe waar jy kletsbot-metgeselle kan skep.”
Toegang tot aanlynspeletjies en die tyd wat ’n kind aanlyn spandeer, kan ook deur ’n ouer beheer word. “As die toegelate skermtyd verby is, word die foon basies ’n baksteen.”
Bekommerd oor jou kind se aanlynveiligheid?
Esteé Cockcroft kan help. Besoek gerus www.screensmarts.co.za, of stuur vir haar ’n e-pos na info@screensmarts.co.za. Sy besoek ook skole landwyd om met kinders oor hierdie belangrike onderwerp te praat.
Cockcroft deel ook haar kennis in die boek Skermslim: ’n Gids vir veilig speel in die digitale ruimte. Dis so geskryf dat kinders sal aanklank vind, en is ook ’n handige hulpmiddel vir ouers oor hierdie belangrike onderwerp. Dit word uitgegee deur LAPA.
