“Dis heerlike lente, die winter’s verby,” lui die bekende volksliedjie – en selfs die berge en klowe roep glo na jou en my. Maar voordat die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel, ’n vrolike “hol-la-dri-o” kan uitbasuin, wag daar ’n paar vals note wat kykers se ore gaan laat tuit.
Die groot nuus is die koms van Elzette Potgieter, ’n belangrike nuwe karakter wat deur die bekende aktrise Nina Swart vertolk word. Nina het ’n volksliefling geword toe sy twee dekades terug as die ikoniese sepiekarakter Wilmien in 7de Laan te sien was.
Haar toetreding is ’n noemenswaardige byvoeging tot die Suidooster-rolverdeling en bring ’n nuwe familiedinamiek na Ruiterbosch.
Elzette daag onverwags op wanneer haar seun, Justin (Eden Classens), haar ondersteuning die nodigste het – maar ou teleurstellings beteken dat hul hereniging allesbehalwe eenvoudig gaan wees.
Haar aankoms is egter net een van verskeie verwikkelinge wat September ’n emosiebelaaide maand gaan maak. Trouplanne begin wankel, huweliksgeheime dreig om aan die lig te kom, susters kies kant en vrae oor bloedbande skud ’n gesin tot in sy fondamente.
Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word telkens op die proef gestel.
Hier is ses groot Suidooster-storielyne wat jy in September moet dophou.
1. Trouklokke, of ’n noodalarm?

Frankie (Mienke Ehlers) en Justin (Eden Classens) is op ’n missie om hul droomtroue te reël. Daar is ’n rok, ’n datum en ’n hele trougeselskap wat gekies moet word – met Zoë (Lauren Joseph) en Angie (Char Carrie) wat natuurlik hul eie idees het oor hoe dinge gedoen behoort te word.
Riaan (Daniel Coetzee) se vermoë om Frankie beter as byna enigiemand anders te verstaan, plaas ekstra druk op die bruidspaar.
Hoe nader die groot dag kom, hoe moeiliker raak dit om ongemaklike gevoelens weg te lag.
Is dit genoeg om iemand lief te hê, of moet ’n mens ook volkome seker van daardie persoon wees?
2. Wat steek Pieter vir Emily weg?

Vir buitestanders lyk Pieter (Dean Olivier) en Emily (Clarissa Theron) soos ’n liefdevolle egpaar, maar Emily voel al hoe sterker dat haar man van haar wegdryf. Wanneer sy begin vermoed dat ’n ander vrou dalk die rede vir die afstand tussen hulle is, word Zoë (Lauren Joseph) onverwags by hul huweliksprobleme ingetrek.
Amanda (Lindie Strydom) probeer die egpaar deur berading help, maar Pieter ontduik die vrae wat werklik saak maak. Dit word gou duidelik dat hy iets wegsteek – iets wat veel groter is as Emily se aanvanklike vermoedens.
Hoe harder Pieter probeer om alles normaal te laat lyk, hoe groter raak die emosionele kloof. Amanda bevind haar in ’n moeilike posisie: Hoe help jy iemand om eerlik te wees wanneer daardie persoon glo die waarheid kan sy hele lewe vernietig?
3. Bridgette en Lee-Ann knor vir mekaar

’n Ou huis wat aan ’n geliefde en bekende skrywer behoort het, word die middelpunt van ’n vurige stryd tussen die Jacobs-susters.
Bridgette (Denise Newman) wil die eiendom as deel van ’n nuwe ontwikkeling gebruik, terwyl Lee-Ann (Portia Joel) glo die huis moet vir die gemeenskap bewaar word. Sy droom van ’n kinderbiblioteek en museum wat Davids se nalatenskap sal vereer.
Vir Bridgette gaan dit oor vooruitgang en die groter prentjie; vir Lee-Ann gaan dit oor geskiedenis, identiteit en wie die reg het om te besluit oor dit wat bewaar moet word.
Die konflik word persoonlik wanneer die gemeenskap kant begin kies en JPD se belange op die spel kom.
Nazeem (Irvine van der Merwe) sien natuurlik ’n geleentheid om homself by die saak in te wurm, maar soos kykers teen dié tyd weet, kom sy hulp selde sonder ’n prys. Die susters sal moet besluit hoe ver hulle bereid is om te gaan – en hoeveel hulle bereid is om vir hul onderskeie oorwinnings op te offer.
4. Familie of vreemdeling? Kate soek steeds na die waarheid

Kate (Annelisa Weiland) se soeke na haar biologiese seun het reeds diep emosionele wonde veroorsaak. Riaan (Daniel Coetzee) probeer sy plek in haar lewe beskerm, terwyl Lendré (Luan Jacobs) se ware motiewe al hoe meer na vore kom…

Net wanneer dit lyk of Kate en Riaan weer vaste grond onder hul voete kry, laat ’n ou brief nuwe vrae ontstaan. Die verlede blyk veel ingewikkelder te wees as wat hulle gedink het, en nóg antwoorde moet gesoek word.
Vir Riaan gaan dit nie net oor biologie nie, maar oor die vrees dat hy sy ma kan verloor. Kate moet intussen probeer onderskei tussen skuldgevoelens, hoop en die waarheid.
Hierdie storielyn herinner ’n mens dat familie nie altyd bloot deur DNS bepaal word nie – maar dat bloedbande steeds die mag het om ’n gesin tot in sy fondamente te skud.
5. Nuwe planne plaas Mike en Frankie se brose band onder druk

Mike (Anrich Herbst) se nuwe hardewarewinkel gee hom en Frankie (Mienke Ehlers) ’n onverwagse kans om hul verhouding te herstel.
Frankie se kreatiewe bemarkingsidees beïndruk wel, maar sy is huiwerig om amptelik by die onderneming betrokke te raak. Sy weet uit ondervinding hoe maklik ’n werksverskil tussen haar en haar pa persoonlik kan raak.
Wanneer Mike haar ’n aanbod maak, moet Frankie besluit of sy gereed is om hom weer te vertrou. Gary (Craig Adriaanse) probeer intussen die vrede bewaar en die winkel se bemarking op dreef kry – selfs wanneer hy Frankie se hulp op kreatiewe maniere moet bekom.
Die winkel se opknapping bring nuwe energie, maar ook onverwagte emosionele oomblikke. Met trouplanne wat reeds onder druk is, kan selfs ’n onskuldige gebaar skielik baie meer beteken as wat enigiemand wil erken.
6. ’n Tweede kans vir ma en seun

Elzette Potgieter (Nina Swart) daag onverwags in Ruiterbosch op juis wanneer haar seun Justin (Eden Classens) haar ondersteuning die nodigste het. Hulle verhouding is egter broos, en haar pogings om weer ’n plek in sy lewe te vind, bring ou teleurstellings na die oppervlak.
Terwyl ma en seun versigtig na mekaar probeer uitreik, begin Elzette ook haar kundigheid en indrukwekkende kontakte vir ’n ambisieuse liefdadigheidsprojek inspan.
Haar planne skep nuwe energie in die gemeenskap en bied aan Siya (Gantane Kusch), Bianca (Simone Biscombe) en die ander Ruiterboschers verskillende maniere om ’n betekenisvolle verskil te maak.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & Kie uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream beskikbaar.
