Om in die middernagtelike ure vir die Suid-Afrikaanse sewespan te kyk, was maar bitter taai op tye. Die Blitzbokke het die afgelope naweek in Vancouver meegeding en dus dikwels eers ná middernag Suid-Afrikaanse tyd op die veld gedraf.
Gelukkig het hulle nog steeds met die louere weggestap en is hulle gelykop met Fidji op 86 punte in vanjaar se sewestoernooi.
Maar om laat wakker te bly of vroeg op te staan is niks in vergeleke met die Tawwe Tienie wat Groep A blyk te wees nie. Ja, as die Blitzbokke hierdie naweek in New York speel, sal hulle in hul groep teen Nieu-Seeland, Frankryk en Australië te staan kom.
Moeilik, maar nie onmoontlik nie. Die New York-toernooi is die finale been van die algehele Sewe-toernooi, wat dit moontlik maak dat die Blitzbokke as algehele wenners van dié toernooi kan wegstap.
KickOff.com berig dat die Blitzbokke sonder gesoute speler Christie Grobbelaar gaan moet klaarkom, wat weens ’n besering aan die oefengroep moes onttrek.
Grobbelaar sal vervang word deur die veelsydige voorspeler Jayden Nell.
Nell, wat sy buiging sal maak vir die Blitzbokke indien hy speel, het verlede jaar die Sprinboksewes A-span by die Rugby Africa Cup in Mauritius verteenwoordig.
LEES | ‘Speler van die toernooi’ Tristan Leyds gesels oor Vancouver-sege
Groepe vir New York
Groep A: Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Frankryk, Australië
Groep B: Fidji, Brittanje, Argentinië en Spanje.
Blitzbok-speeltye vir Saterdag (SA tyd)
17:06 – Nieu-Seeland
20:02 – Frankryk
22:58 – Australië
