Suid-Afrikaanse rugby het dié seisoen behoorlik hul stempel op die Verenigde Rugbykampioenskap afgedruk, met ’n indrukwekkende agt spelers van plaaslike spanne wat hul plek in dié kompetisie se amptelike Elite XV vir 2025/26 ingeneem het.
Die Stormers en Bulls het elk drie spelers bygedra, terwyl die Lions vir nog twee spelers verantwoordelik was.
Die Stormers word verteenwoordig deur agtsteman Evan Roos, wat die drieëlys met 12 drieë aangevoer het; losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat as die liga se voorste puntemaker geëindig het met 158 punte; en stut Ntuthuko Mchunu, wat as een van die mees verbeterde spelers in die kompetisie beskou word.

Die Bulls het ook drie spelers in die span, naamlik skrumskakel Embrose Papier, haker Johan Grobbelaar, wat agt drieë gedurende die gewone seisoen gedruk het, en slot Cobus Wiese.
Die Suid-Afrikaanse groep word voltooi deur Lions-flank Ruan Venter en die altyd betroubare heelagter Quan Horn, wat merkwaardig elke minuut van die gewone seisoen gespeel het om vir die tweede keer die Ironman-toekenning te wen.
Die Elite XV is deur ’n mediapaneel uit al vyf VRK-gebiede gekies en is gebaseer op spelers se vertonings gedurende die gewone seisoen.
Só lyk die volledige span:
- Ntuthuko Mchunu (Stormers)
- Johan Grobbelaar (Bulls)
- Thomas Clarkson (Leinster)
- Darragh Murray (Connacht)
- Cobus Wiese (Bulls)
- Cian Prendergast (Connacht)
- Ruan Venter (Lions)
- Evan Roos (Stormers)
- Embrose Papier (Bulls)
- Sacha Feinberg-Mngomezulu (Stormers)
- Kyle Rowe (Glasgow Warriors)
- Stuart McCloskey (Ulster)
- Stafford McDowall (Glasgow Warriors)
- Werner Kok (Ulster)
- Quan Horn (Lions)
