Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het Maandag aangekondig dat hy ’n interregeringsgeskil verklaar het as die volgende belangrike stap in die stryd om uitgebreide bevoegdhede vir die stad se metropolisie te verkry.
Die burgemeester het die aankondiging saam met JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, by die Stad se Leap-basis in Bishop Lavis gemaak.
Amptelike geskil
Die amptelike geskil, ingevolge die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge, volg op uitgebreide pogings deur Stad Kaapstad om met die waarnemende minister van polisie en sy voorgangers in gesprek te tree. Die geskil sal nou verpligte en spoedige bemiddeling met die waarnemende minister in werking stel in ’n poging om die kwessies op ’n samewerkende en goede trou-grondslag op te los sonder die behoefte aan hofaksie.
“Ons weier om te aanvaar dat gemeenskappe daagliks in vrees vir bendegeweld, vuurwapenmisdaad en dwelmverwante misdaad moet leef. Die tyd het aangebreek om te ‘vang en skuldig te laat bevind’, iets waarvoor ons metropolisie gereed staan om die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag te ondersteun,” het Hill-Lewis gesê.
“Die Stad glo dat ons ten volle gebruik moet maak van alle polisiëringshulpbronne in Kaapstad. Die polisie het werklik ons hulp nodig, aangesien hulle onder groot druk verkeer om gewelddadige misdaad met beperkte hulpbronne te bekamp,” het hy bygevoeg.
Volgens Hill-Lewis behoort die Stad die bevoegdheid te hê om ’n suksesvolle saakdossier saam te stel wanneer ’n metropolisiebeampte ’n onwettige vuurwapen konfiskeer, sodat aanklaers ’n skuldigbevinding kan verkry.
“Tans oorhandig stadsbeamptes die vuurwapen aan die polisie en, weens ’n gebroke strafregstelsel, lei slegs 5% van hierdie sake tot ’n skuldigbevinding. Dit dwing ons beamptes om keer op keer teen dieselfde oortreders op te tree.
Die Stad beskik oor toepaslik opgeleide beamptes en tegnologie wat misdaadondersoeke kan versterk, maar opeenvolgende ministers van polisie het geen dringendheid getoon om hierdie bevoegdhede vir die metropolisie uit te brei nie. Daarom het ons nou besluit om amptelik ’n interregeringsgeskil met die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, te verklaar.”
