In Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, se suksesvolle aansoek in die hooggeregshof om die dissiplinêre verhoor teen hom ongeldig te laat verklaar, het hy aangevoer slegs die raad kan ’n dissiplinêre proses teen hom instel, nie ’n administrateur nie.
Dit volg nadat Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, die munisipaliteit onlangs onder omstrede omstandighede onder administrasie geplaas het, ’n stap waaroor inwoners en sommige opposisiepartye hul teenkanting uitgespreek het.
Bewerings word gemaak dat dié stap aandui dat die ANC sy hande op die stad se geldkoffers voor die plaaslike verkiesing van 4 November wil lê.
LEES | Kimberley se politieke chaos brei uit: Stakings; nog hofsake; vyf uitgeskop
Waarnemende regter Jane Ngubeni het dié bevel op 8 Junie in Matlala se guns uitgereik, die einste dag waarop die verhoor oor substantiewe klagtes teen Matlala sou begin.
Uit hofstukke wat deur NoordkaapBulletin bekom is, blyk dit Matlala het die hof op ’n dringende basis genader om sy dissiplinêre verhoor onwettig te laat verklaar en ter syde te stel.
Geen ondersoek na beweringe
Sy vernaamste betoë was dat die munisipale raad nooit ’n geldige besluit geneem het dat die beweringe teen hom ernstig genoeg is om ’n ondersoek te regverdig nie, soos vereis deur Regulasie 4 van die Plaaslike Regering: Dissiplinêre Regulasies vir Senior Bestuurders 2010 nie. Dit is uitgevaardig kragtens Artikel 120 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000.
Dié regulasie vereis die raad moet ’n formele besluit neem oor of die bewerings van wangedrag teen ’n senior bestuurder van so ’n ernstige aard is dat ’n ondersoek geregverdig is.
Matlala het aangevoer dat die raad nooit so ’n geldige besluit geneem het nie, wat die res van die dissiplinêre proses onwettig gemaak het.
LEES | Sol Plaatje-munisipaliteit amptelik onder administrasie; nog ’n regstryd wag
Kragtens die regulasie moet die raad, as hulle tevrede is dat daar redelike gronde is om wangedrag te vermoed, binne sewe dae ’n onafhanklike ondersoeker aanstel.
Voorts was die aanstellingsbriewe van die voorsitter (Mabunda Attorneys) en die inisieerders (Kopano Mothibi Attorneys) deur die destydse waarnemende munisipale bestuurder geteken, en nie deur die uitvoerende burgemeester soos die raad se eie besluit vereis het nie.
Die mag om ’n ondersoeker aan te stel berus by die raad alleen en mag nie na ’n eksterne instelling (soos die direkteur-generaal van die provinsie) gedelegeer word nie.
Hy bevraagteken die onpartydigheid van die inisieerders (Kopano Mothibi Attorneys) omdat hulle voorheen vir die munisipaliteit in litigasie teen hom opgetree het.
