Steenhuisen se skuif: Dís wat kenners sê dit vir die DA en RNE beteken

John Steenhuisen.
John Steenhuisen. Foto: Getty Images.

John Steenhuisen, wat na verwagting die nuwe adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging kan word ná die DA se Geordin Hill-Lewis hom vir hierdie pos benoem het, se salaris sal met ongeveer R500 000 verminder sou die president hom aanstel.

Waar sommige politici nie die demosie sou aanvaar nie, het DA-bronne aan Die Papier gesê dat Hill-Lewis Steenhuisen nie in ’n amptelike DA-skrywe sou benoem as hy nie reeds in beginsel daarmee saamgestem het nie. Steenhuisen self kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Hill-Lewis het vandeesweek ’n spul DA-kabinetsposte geskommel. Willie Aucamp is vir die landbouministerspos benoem, en die Wes-Kaapse LUR van onderwys, David Maynier, sal Aucamp as minister van omgewingsake opvolg. Daar was ook ’n hele paar skuiwe onder adjunkministers, waarvan drie nou hul uitvoerende poste kwyt is.

Willie Aucamp.
Willie Aucamp. Foto: Getty Images.

Luidens Hill-Lewis se verklaring, sal Steenhuisen onder meer die werk waarmee hy reeds by landbou besig was – om nuwe oorsese markte vir Suid-Afrika se landbou-uitvoere te ontsluit – by die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) voortsit.

Die druk om Steenhuisen as landbouminister te pos kom ná maandelange onenigheid tussen hom en boere in die privaat sektor oor sy departement se hantering van bek-en-klouseer.

Die laaste spyker in die spreekwoordelike doodskis was Jana le Roux, sy stafhoof, se uitgelekte e-pos waarin sy FMD Response SA se pleidooie aan die departement as “vermaaklik” afgejak het. In pleks van dié e-pos aan kollegas stuur, het sy dit per ongeluk teruggestuur aan FMD Response SA.

Steenhuisen sal nie die eerste minister wees wat ’n demosie aanvaar nie. Twee ander voorbeelde sluit in David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, wat voorheen die minister van staatsveiligheid en minister van energie was. Die tweede is Sihle Zikalala, tans adjunk in die openbare werke-departement, wat voorheen minister van dieselfde departement was.

Betaalstrokie.

‘John moet die ANC destabiliseer’

Prof. William Gumede, politieke ontleder, vermoed daar is ’n dieper “strategie” agter Steenhuisen se skuif na die DTIC, wat ook deels kan verklaar waarom hy die demosie ervaar het.

“Dit kan wees dat hulle hom daar sit om [Parks] Tau (minister van handel, nywerheid en mededinging) en sy kerngroep te destabiliseer, wat die swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-beleid dryf. Wat is een van die grootste gevegte tans in die land? Dis SEB.”

Die DA is uitgesproke teen SEB. Gumede staan tans self aan ontvangkant van hewige kritiek weens sy standpunt oor SEB in die huidige vorm en sy oproepe om die beleid drasties te hervorm.

“Dit [Steenhuisen se skuif] kan moontlik ’n briljante strategie wees om net die hele groep te neutraliseer,” sê Gumede.

Steenhuisen by die inenting van vee in Katlehong in Maart in Ekurhuleni in Gauteng.
Steenhuisen by die inenting van vee in Katlehong in Maart in Ekurhuleni in Gauteng. Foto: OJ Koloti, Gallo Images.

Hy verduidelik die belangrikheid van die DTIC: “Dis ’n magtige instelling, want baie van die magtige ontwikkelingsfinansieringsinstellings soos die Openbare Beleggingskorporasie (PIC), die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) doen verslag aan jou. Dis nie net ’n gewone departement nie. Dis skielik waar al die ekonomiese staatsbates sit.”

Volgens Gumede het die ANC dit so beplan om onder die regering van nasionale eenheid seker te maak hulle het beheer oor hierdie bates.

“Van die twee groot groepe van staatsbeheerde entiteite – die infrastruktuurbates soos Eskom en Transnet en die ontwikkelingsfinansierders – kom die geld tans van die ontwikkelingsfinansierders.”

“En as jy nou aan die hoof staan van die DTIC, is jy ’n magtige individu,” beklemtoon Gumede.

Dit lyk of Gumede dalk reg is. Die ANC het Donderdag in ’n verklaring oor Hill-Lewis se voorgestelde kabinetskuiwe na die DA gekap oor sy SEB-teenstand. Die party het ook sy ongemak met die DA in DTIC-midde laat blyk.

“Dit is ewe kommerwekkend dat die DA gemaklik lyk om strategiese ekonomiese portefeuljes as instrumente vir interne partyfaksiegevegte te gebruik. Die DTIC is nie net nog ’n regeringsdepartement wat as ’n stortingsterrein vir hul onderpresteerders of faksie-teenstanders uitgebuit moet word nie.

“Die DTIC sit in die middelpunt van industrialisering, lokalisering, beleggingsbevordering, ekonomiese transformasie, werkskepping en inklusiewe groei. Suid-Afrikaners verwag dat hierdie portefeulje met die erns wat dit verdien, benader sal word en nie as ’n gerieflike bestemming vir interne politieke herontplooiings nie.”

Die skuiwe

Benewens Steenhuisen, Aucamp en Maynier, was daar ook skuiwe onder adjunkministers.

Steenhuisen vervang Alexandra Abrahams as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging. Samantha Graham-Maré, adjunkminister van elektrisiteit en energie, is nou waarskynlik haar kabinetspos kwyt omdat sy vir Abrahams moet plek maak.

Yusuf Cassim, DA-LP in die Oos-Kaap, is benoem as adjunkminister van hoër onderwys en opleiding in dr. Mimmy Gondwe se plek.

Jack Bloom, jarelange DA-verteenwoordiger in die Gauteng-wetgewer, word adjunkminister van water en sanitasie in Sello Seitlholo se plek.

Waarom die skuiwe?

Gumede sê een van die redes is sodat Hill-Lewis, wat nie in die kabinet dien nie, bondgenote in uitvoerende kringe het wat sy oë en ore kan wees.

Prof. Erwin Schwella, politieke ontleder, noem dat Hill-Lewis optree in belang van die DA se ondersteuningsbasis.

“Maar ook met die benadering dat dit die DA se beginselstandpunt is dat prestasie beloon word, en wanprestasie of onderprestasie nie gestraf word nie, maar ook nie eintlik beloon word nie.”

Volgens Dirk Kotzé, ook ’n politieke ontleder, is die skommelinge nie ’n skoonmaakproses nie, maar die gevolg van ’n interne prestasiebeoordeling en ’n evaluering van amptenare se sigbaarheid.

“Of hulle gesien word dat hulle impak maak, dat hulle dít wat die DA in 2024 (by die vorige algemene verkiesing) beloof het – dat hul besig is om by te dra tot die bereiking van daardie doelwitte.”

Hy sê die skuiwe van Maynier, Bloom en Cassim, wat van provinsies na nasionale vlak gestuur word, wys vir hom “die DA is bereid om oor die koppe van bestaande parlementslede te gaan om mense vanuit die provinsies op nasionale vlak” in te bring.

“Dit wys hoe belangrik die provinsies en die provinsiale regerings vir die DA op alle vlakke is. Dit bevestig in ’n groot mate hulle filosofie dat hulle ’n federale party is wat van onderaf boontoe bou.”

Volgens Kotzé is Hill-Lewis se boodskap drieledig: “Die een is dat die DA bereid is om te kyk na sy eie lede en te kyk na hul prestasie en of dit op standaard is. Tweedens, as dit nie op standaard is nie, om daarop te reageer deur óf mense uit posisies te verwyder óf hulle te skuif na posisies waarvoor hulle hopelik meer geskik is. Derdens stel dit nou ’n uitdaging aan al die ander politieke partye om te sien of hulle bereid is om dieselfde te doen.”

Pres. Cyril Ramaphosa.
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS.

Die Sunday Times berig Ramaphosa, president van die ANC, het glo Woensdag ’n topsewe-vergadering saamgeroep om kabinetskommelinge in sy eie geledere te bespreek.

Ramaphosa moet onder meer die uitgeskopte minister van maatskaplike ontwikkeling, Sisisi Tolashe, vervang. Hy mag hierdie veranderinge dalk nog vandag aankondig, of wag tot volgende week en dit saam met Hill-Lewis se voorgestelde veranderinge aankondig.

  • Lees meer oor Willie Aucamp en die ander skuiwe in die DA in Die Papier, wat nou op die rakke is.
  • Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
  • ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie