Springbok-assistentafrigter Mzwandile Stick het Handré Pollard, die veteraan-loskakel, se eerlikheid geloof omdat hy erken het dat hy nie 100% fiks was om die All Blacks in die tweede toets van die Greatest Rivalry-reeks in Kaapstad die stryd aan te sê nie.
Pollard het ’n kuitbesering opgedoen en sy plek in die begin-XV word nou deur Sacha Feinberg-Mngomezulu ingeneem, met Manie Libbok op die bank.
“Dit [Pollard se besering] het Woensdag gebeur en hy het vir toetse gegaan, so ek kan nie sê presies hoe lank hy buite aksie sal wees nie,” het Stick gesê.
“Ek voel met hom mee en hoop hy herstel vinnig, maar wat ek bewonder, is dat ’n leier soos Handré eerlik was oor hoe hy gevoel het en die moed gehad het om te sê dat hy nie goed gevoel het tydens die oefensessie nie.
“Op daardie oomblik tydens die oefensessie kon ek sien dat hy deur trane gaan.
“Ek weet dit is hartseer om ’n speler soos Handré te verloor. Hy was in goeie vorm, het baie hard gewerk, was positief en het probeer om die ouens te help,” het Stick bygevoeg.
