Die Stormers-losskakel Jurie Matthee sal soos in die openingswedstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) Saterdag teen Leinster speel.
Matthee sal sy spanmaat en Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu se plek in die beginspan neem ná ’n enkelbesering in die kwarteindstryd verlede Saterdag teen Cardiff in Kaapstad.
Matthee was puik in die Stormers se oorwinning van 35-0 teen die einste Leinster in die eerste wedstryd van die seisoen in Kaapstad.
Die Stormers sal egter Saterdag in die Aviva-stadion in Dublin ’n begeesterde span moet aanpak wat die Lions met 59-10 geklop het.
Rito Hlungwani, voorspelerafrigter van die Stormers, glo Matthee sal soos vroeër die seisoen homself uitstekend van sy taak kwyt.
“Jurie is reg vir Saterdag se wedstryd. Hy het teen Leinster in die eerste wedstryd briljant gespeel. Hy is altyd reg en gretig om te speel. Hy het al moeilike wedstryde gespeel en ons is vol vertroue dat hy weer goed sal vertoon.
“Jurie en Sacha is twee verskillende losskakels, maar ons gaan nie veel torring aan ons wedstrydplan nie. Ons hou daarvan as spelers op hul sterkpunte fokus en Jurie gaan weer soomloos inpas.”
Die wedstryd is Saterdagaand regstreeks op SS, 211, om 18:25.
