Tjooeee, tjoeeee . . . Die herinnerings stoom voort

Trein.
Foto: Adobe Stock.

Ai, dit was heerlike dae daardie! My pa was ’n spoorwegman en ons het elke jaar met sy vrypas van Pretoria na Hartenbos toe met vakansie gegaan.

Op die platform neem die kruier jou bagasie na jou kompartement. Elke kompartement het ’n kaartjie gehad met die passasiers se van daarop. Nadat die mense hul plekke ingeneem het, wag ons vir die teken van die stasiemeester. Hy swaai sy groen vlag heen en weer.

Dan hoor ons waarvoor ons so lank gewag het . . . die stoomtreinlokomotief se fluit! Stadig begin die trein beweeg en almal hang by die vensters uit om vir mense op die platform te waai. Gou hoor jy die klik-klak, klik-klak van die wiele op die staalspoor, eers stadig en dan al vinniger. Ons gaan Hartenbos toe!

Pa het twee groot staaltrommels gehad. In die een was al die klere, komberse, kussings, handdoeke en lakens. Die ander was vol eetgoed. Daar was beskuit, gemmer- en soetkoekies en bottels met ingelegde geelperskes. Melk, brood en ander bederfbare goeters is eers later by die kafee op Hartenbos gekoop.

Die kompartement

Maak ’n mens die kompartement se deur oop, is daar ’n ovaalspieël aan ’n houtpaneel tussen die twee vensters. Lig mens die deksel op, is daar ’n ronde metaalwasbak, twee krane en ’n prop.

Bokant die spieël is ’n knip. Druk dit en ’n tafel maak sy verskyning. Twee blaaie vou uit en daarop sit jy jou koffie, of rus jou arms as jy jou boek lees.

Vanaand vou jy die tafelblad terug, want môre moet jy gesig was en tande borsel. Daar is twee groen banke teenoor mekaar en bokant elk ’n op­slaankooi. Ma en Pa het onder geslaap en ek en my broer bo.

Soggens klop die bedding boy aan die deur. Jy stap uit en die beddens word netjies opgemaak. Die toilet is aan die einde van die gang. Wanneer daar ’n rooi vlaggie bokant die deurknop wys, dan is die toilet beset.

As jou nood groot is, hol jy na die volgende wa en hoop daar’s niemand daar nie!

Trein.
Foto: Adobe Stock.

Die eetsalon

Ontbyt, middag- en aandete is beskibaar. ’n Kelner, netjies geklee met ’n swart onderbaadjie aan, kom in die gang af gestap met ’n ghong op sy linkerarm.

Daarop slaan hy met ’n me­taalhamertjie om te laat weet dat ons eetsalon toe kan gaan.

Die salon is antiek met pragtige houtpanele. Op elke venster is daar ’n springbokembleem met die letters “SAS&H” daaronder (Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens).

Twee groot waaiers woer-woer teen die plafon en elke eetwa het ook ’n naam, soos Outeniqua of Umkomaas.

Ons maak beurte om by die venster te sit. Spierwit tafeldoeke op die tafels.

Al die eetgerei is egte swaar Kaapse silwer. Eers kom die sop, so ’n dun soppie wat skaars die embleem op die bodem van die bord bedek.

Dan volg vis met Tartaarse sous. En dan die hoofmaal: skaapvleis met groente en ’n porsie slaai. Laastens kry ons ’n heerlike broodpoeding met goudgeel vla.

Skuins ná sesuur in die oggend tik-tik die kelner aan die deur en sê: “Koffie.” Maak die deur oop en laat sak die tafel en stomende koppies koffie word neergesit. Dan gaan hy na die volgende kompartement en só kry almal vroegoggend ­Boeretroos!

Ons trek die houtblinders op en sien hoe die landskap verbyvlieg. Die trein stop by elke stasie om kanne op te laai.

Dit is hoekom daar van die “­melktrein” gepraat word.

Pa het twee groot staaltrommels gehad. In die een was al die klere, komberse, kussings, handdoeke en lakens. Die ander was vol eetgoed.

Wie gaan eerste die see sien?

Skuins ná agtuur die volgende oggend stoom die trein deur die kronkels van die Outeniqua-­berge. ’n GMAM Garratt-lokomotief is ingespan om die waens tot bo-op die berg te kry.

Daar was ’n hele paar tonnels, dan moes ons gou die vensters toemaak anders is alles en almal vol klein stukkies steenkool wat saam met die rook ingewaai het.

Die heel onderste stilhouplek aan die voet van die berg se naam is “Power”.

Die lokomotief drink sy maag vol water en begin die tog na bo.

Dit gaan so stadig dat ons jong seuns afklim en langs die trein stap. Die klowe is oortrek met rooi en oranje aalwyne. Langs die spoor drup blink water uit die rotse. Dis doodstil, al wat jy hoor is die lokomotief se gespook om sy vrag na bo te kry.

Uiteindelik is ons die berg uit en die lokomotief sluk weer water by die boonste stasie genaamd “Topping”.

Nou is daar merkbare opgewondenheid by die passasiers.

Wie gaan eerste die see sien? Om ’n sekere draai swaai die trein na regs en almal roep: “Daar is die see!”

Ver op die horison lê die blou water. Ons wag al ’n jaar vir die gesig. Ons ry verby Grootbrak en Kleinbrak. So teen halfelf die oggend stop die trein op Hartenbosstasie. Ons het aangekom! “Jippieeee!”

  • Hardus Mynhardt is ’n leser van Mosselbaai. Lees dié brief en vele ander in Die Papier.
  • Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
  • ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie