Skotland het Saterdag op Loftus Versfeld ’n paar tekortkominge in die Springbokke se strukture ontbloot. Dit was natuurlik nie die Bokke se sterkste span nie, maar ek het genoeg gesien om my ’n bietjie senuweeagtig te maak.
Die legendariese Kelso-flank John “The White Shark” Jeffrey het altyd gesê Skotland moet slimmer, fikser en taaier wees as hulle die groot rugbyreuse wil klop. Jeffrey, wat deel was van die Skotse span wat Engeland in 1990 geklop en die Vyfnasies gewen het, het geweet wat nodig is om toetsrugby te wen.
Die Springbokke het egter die afgelope naweek teen ’n effens ander weergawe van daardie resep te staan gekom. Skotland was slimmer, fikser én vinniger as die Bokke en het daarmee ’n paar ongemaklike swakhede in Suid-Afrika se spel blootgelê. Dit was waarskynlik die ideale toets op die regte tyd, want Skotland se tempo, vaardigheid en hantering met die bal het aspekte van die Bokke se spel ontbloot wat andersins moontlik ongesiens sou gebly het.
Reguit deur die gapings
Ná ’n oorheersende eerste 20 minute het die Springbokke se intensiteit merkbaar afgeneem.
Ben-Jason Dixon se geelkaart het beslis ’n rol gespeel, maar dit vertel nie die hele storie nie. Skotse voorspelers het later in die wedstryd herhaaldelik deur die Bok-verdediging gebreek, iets wat selde teen Suid-Afrika gebeur.
Skotland se hoë tempo, uitstekende vaardigheid en vinnige balverspreiding het elke klein foutjie in die Bok-verdediging uitgewys. Enige geringe afname in werktempo, konsentrasie of fiksheid is onmiddellik gestraf.
Selfs Elrigh Louw, wat pas as plaasvervanger opgedraf het, het soms moeg gelyk en gesukkel om by Skotland se blitsvinnige spel aan te pas. Tuks Mchunu en Jan-Hendrik Wessels het ook soms onder die tempo gebuk gegaan, wat Skotse voorspelers die geleentheid gegee het om naby die afbreekpunt deur te breek.
Hoewel daar dikwels gepraat word oor Suid-Afrika se ongelooflike diepte, is “potensiaal” moontlik ’n beter beskrywing. Die Springbokke beskik oor baie talentvolle spelers, maar nie almal is reeds gereed vir toetsrugby teen ’n span wat teen hierdie tempo speel nie.
Tempo
Skotland se vermoë om die bal vinnig deur die hande te laat beweeg, was uitstekend en dien as ’n moontlike bloudruk vir hoe die Springbokke se verdedigingsisteem ontwrig kan word.
Die Bokke wil vinnig met hul verdedigingslyn vorentoe hardloop, die opposisie terugdruk en hulle onder druk plaas deur fisieke oorheersing. Indien ’n span egter die bal vinnig van die kontakpunt af wegkry, ontneem dit die Bokke van die botsings waarop hulle staatmaak.
Dit dwing verdedigers om moeilike besluite te neem, veroorsaak probleme met verdedigingsgetalle en skep ruimte aan die buitekant.
Hierdie les sal beslis nie by die All Blacks verbygaan nie. Nieu-Seeland ontwikkel tans ’n aanvalpatroon wat sterk ooreenkomste toon met Skotland se spel: Vinnige afbreekpunte, blitsige balverspreiding en konstante verandering van die aanvalspunt voordat die verdediging kan herstel.
Die positiewe vir Suid-Afrika was dat hul sogenaamde “scramble defence” steeds baie skade beperk het. Volgens statistieke het die Bokke uit vyf deurbrake ses drieë gedruk, terwyl Skotland uit 15 lynbreuke net vier drieë kon aanteken.
Dit wys hoe doeltreffend Suid-Afrika steeds is wanneer geleenthede opduik, maar die groot aantal deurbrake wat afgestaan is, bly kommerwekkend.
Voetwerk
Skotland se uitstekende voetwerk voor kontak was een van die hoofredes waarom hulle 46 verdedigers geklop en 15 keer skoon deurgebreek het.
Die Bokke het slegs 77% van hul duikslae voltooi en 46 duikslae gemis, buitengewone syfers vir ’n Bok-span.
Skotland het doelbewus voor kontak van rigting verander en klein bewegings gebruik om verdedigers uit posisie te trek. Hierdie taktiek het dikwels veroorsaak dat Bok-verdedigers óf heeltemal misduik óf nie dominante kontak kon maak nie.
Dit het ook gehelp om vinniger bal by die losgemaal te verseker en Skotland toegelaat om die tempo van die wedstryd te beheer.

‘Chop tackles’
Nog ’n interessante aspek was die Springbokke se toenemende gebruik van sogenaamde “chop tackles”.
Onlangs is daar beeldmateriaal gedeel van Bok-spelers wat spesifiek hierdie tegniek oefen. Die idee is om baie laag op die aanvaller se dye te mik om hom onmiddellik grond toe te bring en momentum dood te maak.
Rassie Erasmus soek moontlik ’n oplossing vir die nuwe laer duikhoogte-reëls, wat dit moeiliker maak om jou teenstanders fisiek te oorheers.
Die probleem is egter dat hierdie tipe duikslag perfekte tydsberekening vereis. Indien die aanvaller goeie voetwerk gebruik, verander hy reeds rigting voordat die verdediger sy “chop tackle” kan voltooi.
Dít het haaldelik teen Skotland gebeur. Die kombinasie van Skotland se voetwerk en die Bokke se “chop tackles” was ’n groot rede vir Suid-Afrika se buitengewone hoë aantal verbroude duikslae.
“Chop tackles” is ’n waardevolle tegniek, maar werk slegs in spesifieke situasies. Dit is nie ’n oplossing vir elke verdedigingsprobleem nie.

Alles oë is nou op die All Blacks
Of die Springbokke hul benadering sal aanpas, moet nog gesien word. Miskien word die “chop tackle” minder gebruik, of dalk leer spelers nog wanneer dit die doeltreffendste is.
Wat wel duidelik is, is dat die taktiese stryd tussen die Springbokke en die All Blacks met elke week interessanter raak.
En wanneer die twee spanne op 22 Augustus mekaar aandurf, behoort baie van hierdie vrae uiteindelik beantwoord te word.
