’n Vermoedelike renosterstroper is Vrydagaand tydens ’n konfrontasie met lede van die teenstroopeenheid op ’n plaas in die Pienaarsrivier-polisiëringsgebied in die Waterberg-distrik doodgeskiet.
Die voorval het omstreeks 23:00 op 19 Junie plaasgevind toe lede van die teenstroopeenheid wat roetinepatrollies uitgevoer het, drie skote gehoor en onmiddellik gereageer het.
Hommeltuie is ontplooi om die verdagtes op te spoor en na renosterkarkasse te soek. Een van die hommeltuie het vermoedelike stropers opgespoor en hul ligging aan die polisie deurgegee.
Toe die polisie nader beweeg het, het die verdagtes die bosse ingevlug. Een is met ’n geweer en ’n ander met ’n rugsak gesien. Terwyl die polisie een van die verdagtes agternagesit het, is lede van die teenstroopeenheid en die hommeltuig onder skoot geneem. Die polisie het uit selfverdediging teruggeskiet en die verdagte is noodlottig gewond.
Die oorledene het geen identifikasie by hom gehad nie. ’n Vuurwapen is langs sy liggaam gevind.
Hommeltuie het later drie vars witrenosterkarkasse op die plaas opgespoor. Twee van die renosters se horings was reeds verwyder, terwyl die derde renoster nog nie onthoring was nie. ’n Mes in ’n skede en nog ’n skede is by die karkasse gevind.
Die polisie het sake van renosterstropery, poging tot moord en moord geopen.
Die provinsiale kommissaris van Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, het gesê renosterstropery is ’n ernstige vorm van georganiseerde misdaad wat natuurlewe en die veiligheid van polisielede bedreig.
“Hierdie voorval wys dat ons teenstroopeenhede daadwerklik sal optree om ons natuurlike erfenis te beskerm,” het sy gesê.
’n Mensejag na die oorblywende verdagtes is aan die gang.
