Verskeie dele van die Wes-Kaap sonder krag weens gure weer

’n Boom het Sondag in Franschhoek in die slag gebly weens die gure weer. Foto: Reginald Oliver Pheiffer/Facebook
’n Boom het Sondag in Franschhoek in die slag gebly weens die gure weer. Foto: Reginald Oliver Pheiffer/Facebook

Verskeie gebiede in die Wes-Kaap was Sondag sonder elektrisiteit weens ongunstige weerstoestand wat netwerkfoute en skade aan infrastruktuur veroorsaak het.

Eskom het in ’n verklaring gesê die geraakte gebiede sluit onder meer Eersterivier, dele van Khayelitsha, Klapmuts, Lynedoch, asook Malmesbury, Gouda, Saron en omliggende gebiede in.

Eskom sê sy tegniese spanne was teen laat Sondagmiddag besig om die skade te assesseer.

“Tegniese spanne is tans op terrein en werk daaraan om die skade te bepaal en die kragtoevoer so gou moontlik te herstel sodra dit veilig is om dit te doen,” lui die verklaring.

Die kragvoorsiener het ook inwoners gemaan om versigtig te wees en “alle elektriese infrastruktuur as lewendig te hanteer.”

Intussen hou ’n kouefront steeds groot dele van die Wes-Kaap in sy greep met koue, nat en winderige toestande wat na verwagting tot minstens Maandag sal voortduur.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het gewaarsku dat verdere reën en sterk winde moontlik nog plaaslike ontwrigtings kan veroorsaak.

LEES | Koue, nat toestande kan tot Maandag duur

Eskom het om verskoning gevra vir die ongerief en doen ’n beroep op inwoners om geduldig te wees terwyl herstelwerk onder uitdagende weerstoestande voortduur.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie