Dit was ’n naweek van gemengde gevoelens vir die ondersteuners van die Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap.
Die spanne van Gauteng het beide uitstekende vertonings gelewer om kardinale plekke op die puntelys te behaal.
Die Lions en Bulls het onderskeidelik 54-12 teen die Glasgow Warriors en 47-7 teen die Dragons gewen.
Die Lions spog nou in vierde plek, en die Bulls in agtste plek, wat hul plekke in die kwarteindstryd-wedstryde sal verseker as die groeprondes hierdie naweek klaargemaak het.
Dít is egter nie die geval nie. Daar is nog drie wedstryde vir elke span oor voor die uitkloprondes begin. Die Lions sal hul laaste twee wedstryde oorsee teen die Ierse reuse Leinster en Munster speel, terwyl die Bulls alles in hul vermoëns sal doen om in die Top-4 te eindig.
Die Stormers sal ná hul teleurstellende verloor van 24-33 teen Connact sterker teen die Glasgow Warriors wil terugkom hierdie naweek, aangesien dit ook hul laaste groepwedstryd tuis vir hierdie seisoen is.
Die Sharks se hoop om die uitspeelrondes te haal, het ’n groot knou weg toe hulle met 21-17 teen die Ospreys in Wallis verloor. Hul 11de plek op die puntelys maak dat hulle 11 punte minder as die agtste span het.
Onthou, slegs die Top-8-spanne dring deur tot die kwarteindstryde en die Top-4-spanne sal tuisveldvoordeel vir dié wedstryde hê.
Een van die oomblikke wat SA ondersteuners behoorlik warm onder die kraag het, is toe Ospreys-vleuel Luke Morgan op Sharks-ster Ethan Hooker geduik het, ná hy ’n drie gedruk het.
Hoewel dit nie ongewoon is nie, het Morgan geen realistiese kans gehad om dié drie te keer nie, en boonop is Hooker nou op die krukkelys.
“Ethan se besering was ’n groot knou vir ons,” het Sharks-breier, JP Pietersen aan joernaliste gesê. “Nadat ’n drie gedruk is, sê die reëls jy mag nie op ’n speler duik nie, en dié reëls is daar om spelers te beskerm.
“Ongelukkig het dit nie gebeur nie.”
Hooker het sy skouer uitgehaak en sal nou ֹ’n geruime tyd op die krukkelys wees.
Die Stormers se verloor sou hulle ’n daadwerklike kans gegun het om boaan die puntelys te pronk.
“Dit het soms gevoel asof ons iets moes uitdink om hulle te klop, terwyl die bloudruk eintlik daar was om dit te doen,” het ’n teleurstellende John Dobson, Stormers-afrigter, ná die wedstryd gesê.
“Dit was ’n swaar week, waarskynlik een van die moeiliker weke wat ons as groep ervaar het,” het kaptein Ruhan Nel gesê.
“Maar op geen stadium wil ons dit as ’n verskoning gebruik nie.”
Die Stormers is steeds in rou ná hul jarelange spanbestuurder, Christopher ‘Chippie’ Solomon, onlangs oorlede is.
VRK-wedstryde
Vrydag (24 April)
20:45 Sharks t. Edinburgh
Saterdag (25 April)
13:45 Stormers t. Glasgow
16:00 Lions t. Connact
20:45 Bulls t. Scarlets
