Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:
Lamstjops, baba-wortels, knoffel, lemoene, vars tiemie
Met die bestanddele kan jy die volgende maak:
Smullekker tjops
- 6 lamtjoppies
- 200 g klein of babawortels
- 8 knoffelhuisies
- 3 lemoene
- 15 g vars tiemie
Metode
- Geur die tjops met sout en peper. Braai in ’n warm pan tot bruin aan beide kante (maak seker jy braai ook die vetkantjies).
- Skil die wortels indien verkies, en sny dié wat bietjie groot is middeldeur. Voeg saam met die geskilde, heel knoffelhuisies by die tjops in die pan.
- Braai die tjops nog twee minute aan elke kant tot goudbruin buite, maar steeds pienk binne. Rasper die skil van een van die lemoene bo-oor die vleis en wortels en sprinkel ook die tiemietakkies oor. Skud die pan vir net sowat 30 sekondes sodat al die bestanddele lekker met mekaar kan praat.
- Skep die vleis uit om eenkant op ’n bord te rus. Druk die sap van al drie die lemoene oor die ander bestanddele wat steeds in die pan is. Laat die sap borrel en reduseer tot klewerig. Sit die tjops en enige vleissappe terug en skud tot gemeng. Sit dadelik voor.
- Resep aangepas uit Five Ingredients deur Jamie Oliver.
Indien jy ons kode in die koerant skandeer het, is hier jou drie variasies op dié resep met dieselfde bestanddele:
Marokkaanse-styl lemoen lamstjops
Voeg by: 2,5 ml komyn, 2,5 ml paprika, 2,5 ml kaneel
Laat weg: tiemie
- Meng die fyngekapte knoffel, komyn, paprika, kaneel en ’n bietjie sout en olyfolie tot ’n smeerbare pasta. Smeer dit bo-oor die tjops.
- Braai dit oor warm kole of in ’n pan tot so gaar soos jy daarvan hou.
- Rooster die wortels met lemoenskyfies en ’n bietjie heuning (opsioneel) in die oond tot gaar.
- Sit voor saam met koeskoes en ongegeurde jogurt.
Romerige knoffel-en-tiemie-tjops
Voeg by: botter, room, hoenderaftreksel
Laat weg: lemoene
- Geur die tjops met sout en peper en braai net ’n minuut aan elke kant in ’n warm pan om te seël.
- Braai fyngekapte knoffel en die tiemie (blaartjies afgestroop) in bietjie botter vir ’n minuut of twee.
- Voeg 125 ml room en 125 ml hoenderaftreksel by en laat reduseer tot ’n ryk sous.
- Plaas die lamsvleis nou terug in die pan saam met die sous en verhit tot deurwarm en so gaar soos jy daarvan hou.
- Rooster die wortels apart saam met olyfolie, sout en peper. Sit die tjops en sous voor saam met kapokaartappels of polenta.
Griekse-styl lamstjops met geroosterde wortels
Voeg by: Griekse jogurt, suurlemoene
- Marineer die tjops in ’n mengsel van knoffel, tiemie, olyfolie en suurlemoensap vir sowat ’n uur in die yskas. Geur met lekker baie swartpeper.
- Braai die tjops oor warm kole tot so gaar soos jy daarvan hou, of rooster in jou oond of lugbraaier.
- Plaas die wortels in ’n oondvaste bak, rasper die skil van een lemoen bo-oor en voeg ook die lemoensap by. Oondrooster tot gaar.
- Sit die vleis en wortels dadelik voor. Jy kan ook ’n vinnige jogurtsous maak deur ongegeurde Griekse jogurt te meng met gekapte knoffel en suurlemoenskil, na smaak.
