Dit is beslis ’n sterk Lions-span wat Dinsdagaand teen die All Blacks by 10bet Ellispark sal uitdraf. Groot name soos kaptein Francke Horn en heelagter Quan Horn is beide by die beginspan ingesluit.
Twee probleme staar hulle egter in die gesig: Die All Blacks-span is ook gelaai met sterre én die Suid-Afrikaanse spanne kon nog nie een sege oor die Kiwi’s tydens die Greatest Rivalry-reeks behaal nie.

’n Bekende naam keer terug op losskakel, met Richie Mo’unga, wat later by die groep aangesluit het, en vir die eerste keer op die toer in die beginspan ingesluit is.
Mo’unga vorm die skakelpaar met nóg ’n laat insluiting, Noah Hotham, wat op skrumskakel begin, terwyl die veteraan Beauden Barrett op heelagter gekies is.
Voorlangs bestaan die voorry uit Siale Lauaki, Samisoni Taukei’aho en Pasilio Tosi, terwyl Semisi Tupou Ta’eiloa, Ethan Blackadder en Wallace Sititi die agterste drie van die skrum vorm.
Die Lions, die Suid-Afrikaanse skildwenners van die afgelope Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen, sal doelgerig wees om die eerste plaaslike span te wees wat die Kiwi’s laat les opsê.
Veral nadat die Springbokke Saterdag hul eerste toets teen die All Blacks met 16-33 verloor het.

Voorlangs, saam met Horn, sal name soos die flanke Siba Mahashe en Batho Hlekani rugbyliefhebbers opgewonde maak. Maar dit is veral die manne in die agterlyn wat die verkil in die wedstryd kan wees.
Nico Steyn en Chris Smith, wat beide goed in die vorige VRK-seisoen gespeel het, sal die skakelpaar agter die skrum vorm.

Die res van die agterlyn lyk ewe gevaarlik met Erich Cronje en Kelly Mpeku op die vleuels, Richard Kriel en Henco van Wyk as senters en Quan Horn wat op heelagter uitdraf.
Nie ’n gereelde Lions-ondersteuner nie? Toemaar! Name soos Hyron Andrews, Sikhumbuzo Notshe, Boan Venter, JC Pretorius, Haashim Pead en Boeta Chamberlain op die plaasvervangerbank sal almal vir jou bekend lyk.
- Dinsdag se wedstryd skop om 19:00 af.
