Die vier ruimtevaarders op die Artemis ll-reis het Maandag ’n massiewe tree nader gegee deur die Maan se ‘invloedsfeer’ binne te dring. Dit beteken die Maan se swaartekrag is nou sterkte as die aarde s’n.
Die Orion-ruimtetuig sal nou om die Maan sweef, wat Reid Wiseman, Victor Glover, Christina Koch, Jeremy Hansen nou in staat sal stel om verder van ons tuisplaneet te sweef as enige mens voor hulle.
Die ruimtevaarders het omstreeks 06:42 (SA tyd) die Maan se sogenaamde ‘invloedsfeer’ binnegedring en sal binnekort hul eerste vlug om die Maan sedert 1972 uitvoer.
Toe hulle die Maan se swaartekragveld bereik het, was Orion sowat 63 000 km van die Maan af en sowat 373 000 km van die aarde af.
Die drie Amerikaners en Hansen, die Kanadees, sal ’n reeks “eerstes” voltooi. Glover is die eerste persoon van kleur wat om die Maan vlieg, en Koch die eerste vrou. Hansen is ook die eerste persoon wat nie ’n Amerikaner is nie om dié rit sal voltooi.
’n Groot gedeelte van hul vlug sal bestee word om die Maan te bestudeer voordat hulle op die beplande datum van 11 April terug is op die aarde.
