Suid-Afrika verdrink in ’n see van dobbeladvertensies. Op televisie, die radio, sosiale media en advertensieborde word kitsrykdom aan ’n kwesbare samelewing verkoop.
Voeg hierby die konstante promosie van drank, en dit is duidelik – “sonde-maatskappye” het vrye teuels om ons mense te teiken. Intussen bloei ons gemeenskappe. Ons sit met ongebreidelde bendegeweld en nimmereindigende jeugprobleme. Dit kan net nie so voortgaan nie.
Hierdie ryk maatskappye mag nie toegelaat word om miljoene rande te vermors om maatskaplike probleme vir eie gewin te vergroot nie. Dit is tyd vir streng optrede.
Die regering moet hierdie maatskappye wetlik verplig om ’n vaste persentasie van hul advertensiebegrotings direk aan jeugopheffing te bestee. Dit moenie ’n vrywillige onderhandeling wees nie — dit moet afgedwing word.
Net so moet ’n direkte deel van die staat se aksyns reguit na jeugprogramme terugvloei. As jy uit die swakhede van ons mense wins maak, moet jy regtens verplig word om die skade te herstel. Bou sportvelde, finansier naskoolse programme en skep werksessies. Stop die gierigheid en begin ophef.
- Joe Kleinhans, Villieria
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
