Nou die dag stop ek by ’n koffiekafee net buite Stellenbosch.
’n Gesin van vyf, wat voor my uit ’n fêncy BMW klim, is ongelukkig omdat hulle so lank vir hul toebroodjies moet wag (of so neem ek aan). Twee van die meisies en die vrou steek die pa aan om ten minste iets vir iemand te gaan sê. Ek verloor toe fokus en kyk self wat ek vandag gaan bestel.
Uiteindelik kom ’n jong vrou, met te veel borde in haar twee arms, by die gesin aan: “Jammer, meneer, ons moes eers langsheen gaan – ons hettie al die ingredients gehad vir hierdie order nie, maar hier is dit nou.”
Die man was onseker: Moet hy iets sê om sy vrou en kinders tevrede te stel, of is “baie dankie” voldoende wanneer ’n mens buite die riglyne van die spyskaart bestel en die restaurantjie dit steeds bedien?
Die BMW se nommerplaat was “CL”, maar die gereelde “mô” en “pô” van die kinders was Pretoria. Die Kaap is oop vir almal, maar wees tog vriendelik met die kelners, asseblief.
- Belt Millar, Somerset-Wes
